My seun sê gister vir sy ma: “Mamma, ek wens Pappa was nie ’n boekman nie, maar ’n visserman.”
Eish. Arme kind. Pa moes weer ’n manuskrip red (iemand anders s’n).
Maar pa het darem tyd gemaak om met hom te speel ook. En, ons het selfs ’n visstok gebou. (Ek sal nie foto’s stuur nie, maar die katrol werk, al kom dit van ’n stukkende randsnyer af.)
Ek en Knaap was ook die naweek by een van die skuilings. Die rustigheid daar het my opgeval. Mense het sit en kaart speel, party het gelees en ander het maar gesit en gesels.
’n Helder bal het daar rondgelê.
En hoekom nie? In die malligheid moet ons voortgaan, moet ons lewe.
Ek het baie gedink aan Sonia se opmerking dat ons by die kosfees in die KIKS kos weggee, maar nie vir die arme mens onder die brug naas die KIKS nie.
Die punt is, ons móét leef. Ons móét visstokke maak. Ek móét aandag gee aan my seun se drome en wense, al is daar mal mense wat ons land ontwrig. Ons moet ook die kokke ondersteun en die pikante smaak van vars tuna leer onderskei van die gemorskos in kitskosplekke. Ons moet egter ook ons kinders nou en dan hulle sin gee sodat daardie mense in die kitskosplekke hulle McJobs kan behou.
Iemand, ek weet werklik nie wie nie, het eenmaal gesê kinders is Zen-Meesters. Hulle leer ons om in die oomblik te leef.
Een van Kassie se vriende het vir sy dogter ’n partytjie gehou vir haar sestiende verjaarsdag tydens die slagting in Rwanda (in Rwanda).
Ek werk vir ’n moewiese groot internasionale maatskappy. Ons het miljoene dollars geskenk aan die slagoffers van Burma se orkaan en China se aardbewing. Die Suid-Afrikaanse tak het egter nie op ons laat wag nie, ons het ons eie insameling begin vir die vlugtelinge wat nou swaarkry. En raai wat? Hulle het amptelik gevra dat die skenkers nie sal vergeet om balle te gee nie.
Ek het gedink dis moerse.
Ons moet speel. Ons moet voortgaan.
En, mense, ons moet die nuwe regering (ek dink klaar Post-Mbeki) op hulle tone hou. Wat by Polokwane gebeur het was die begin van die revolusie wat nie in 1994 gebeur het nie. Dit kan verskriklik positief wees, of dit kan verskriklik negatief word.
My inligting, en Kassie se vrou bevestig dit, toon dat die nuwe regering besef hulle het die siviele gemeenskap nodig. Mbeki is soos Jan Smuts. Hulle twee is / was wêrelddenkers, maar nie een kon die plaaslike mense verstaan nie.
Zuma is ’n tweegatjakkals wat enige iets vir enige een sal sê, maar hy het soliede mense agter hom. Zweli Mkhize is besig om die minister en die LUR’e van Gesondheid ore aan te sit. Die TAC se goeie netwerk steek tans enorme gate in die regering se swak intelligensie, en nie net oor Vigs nie. (Moenie vergeet nie, dit was Zackie sterk punt in die 80’s!)
Daar is mense in die nuwe regering wat luister. Moenie alles in die Zuma-kamp verdoem nie. (Julle mag kom kritiseer!)
As ek en my seun oor tien jaar nog langs die viswaters wil staan, dan moet ons dit regkry om armoede te beveg, buitelanders te help, en ons buurstate op te hef. Ons kan. Maar dan moet almal hande vat en stem dik maak teen dit wat verkeerd is.
Net soos ons almal saamgestaan het teen die onnosel geweld van die afgelope paar dae.
(Terloops: Ek pes visvang, maar ek sal dit enige tyd doen as dít kwaliteit-tyd saam met my seun sal waarborg!)
Comments