top of page
Uitmelkbos

OUPA SE KOLF


My gedagtes is ver teruggevoer tot 1951 in Durban.  My ouers het my na ‘n sportwinkel in Weststraat (nou Pixley KaSeme) gebring. Ek kon vir my ‘n kolf kies.

Ek is met ‘n Len Hutton (legendariese Engelse aanvangskolwer) daar uit. Amper-amper was ek baas van ‘n Roy McLean (flambojante Springbok-middelkolwer en soms Natal se losskakel). Hy het egter die vorige Saterdag ‘n nulltjie aangeteken – soos meermale helaas.  My entoesiasme vir ‘n Roy McLean was gedemp.

Die kinders se kolwe het nie die name van bekende krieketsterre daarop nie. Wonder hoekom?  Wat hulle wel spesiaal maak, is dat hulle klaar in die fabriek “ïngeslaan” is.  ‘n Plastiekomhulsel is om die kolf aangebring. Jy kan instap en begin moker as jou naam Chris Gayle (of  Zoeloe Klusener)  is.

In my tyd moes jy ure lank die kolf met roulynolie bewerk en daarna met ‘n krieketbal in ‘n sokkie klop-klop totdat jou arm pyn.

Oupa het hom weldra as bouler ontpop. Daardie kolf het nie juis soveel lopies aangeteken dat Wisden belangstellend nadergeskuif het nie.  Hoop julle twee seuns ryg die groot tellings in, hoewel Thomas ook al hoe meer na ‘n ontluikende snelbouler begin lyk – dalk selfs vinniger as Oupa op ‘n latere ouderdom.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page