top of page
Uitmelkbos

OUERIG EN MOERIG-RIG

Twee “ouerige dames” se gesprek in ‘n koffiehuis laat die jonger man aan die tafel langsaan sy ore spits.  Een vertel gedoriewaar vir haar metgesel van iets oor Barack Obama wat sy – van alle plekke! – op Facebook gelees het.

 Verbeel jou! Dit interesseer die jonger man so dat hy op Facebook daaroor skryf … en by hierdie “ouerige man” lok sy stomme verbasing toe dadelik ‘n refleks-respons uit.

 Wat beteken “ouerig”, vra ek hom in kommentaar by sy inskrywing.  Geen antwoord. Ek kon natuurlik ook gevra om watter aardse rede hy Facebook as die eksklusiewe domein van “jongeriges” beskou. Of hoe hy weet dat daardie twee gespreksgenote “dames” is (nie dalk net vroue nie). Kom ons los daardie aspekte maar eenkant.

 Oneksakte beskrywings soos “ouerig” gee my egter ‘n pyn.  Wat is “ouerig” inderdaad as van ‘n kind in ‘n kleuterskool tot ‘n grysaard in ‘n eenheid vir verswakte bejaardes “ouerig” kan wees – elkeen se graad van “ouerig”-heid natuurlik bepaal deur sy of haar portuur en deur die oë van die waarnemer.

Omdat daardie Facebook-gebruiker nie sy ouderdom bygevoeg het by sy inskrywing nie, weet lesers nie of sy “ouerige dames” 40 is of 50 of 60 of 70 nie.  Is die feit dat hulle oor Facebook gesels dus niks vreemd nie, bietjie vreemd of uitermate vreemd?

Vir dieselfde prys: wat is ‘n “goeierige” rugbyspeler? Een wat vir sy klub se eerste span uitdraf of die vierde span?  En ‘n “vinnigrige” vleuel? Is dit ‘n Bryan Habana, of is hy plein vinnig, kort en klaar?

Sulke woorde wat op “rig”” eindig, het seker ‘n naam. Moet die een of ander taalverskynsel wees, nogal meer eie aan ons eie taal, Afrikaans, as byvoorbeeld aan Engels, meen ek. In elk geval, ek dink nie ons taal sal armer wees daarsonder nie.

Ewe seer kan ons gerus maar ophou om mekaar sulke etiketjies om die nek te hang, soos veral die jonger garde graag doen. Toe ek nog net-net oor die 40 was, het ek ‘n keer amper van my lessenaarstoel geval toe ‘n verslaggewer van Die Volksblad waag dat ‘n 50-jarige ‘n “bejaarde” is wat iets oorgekom het. Dit was ekstreem. Maar die meeste koerante val maar rond met die gebruik (of misbruik) van woorde soos middeljarig, bejaard, oud, ens. 

 In dieselfde asem: wanneer word jy ‘n “oom” of ‘n “tannie”? Tokkie is al deur ‘n jong ouerpaar in ‘n hospitaalsaal “tannie” genoem voordat sy 30 was en rêrig ‘n mini kon dra sodat dit ‘n eer vir die mini is. 

 Hierdie “ouerige” ou raak stadigaan “moerig-rig”!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page