Bultfontein se eerste straatligte het in 1963 hul buiging gemaak in die straat waar ou “One Light” gewoon het. Hy was die “misipaal” se elektrisiën-cum-honde-inspekteur, en sy bevoorregting met die beligting is seker nie onverklaarbaar nie.
By sommige het die indruk in daardie konteks ontstaan dat die naam “One Light” en koms van straatligte na die Vrystaatse dorp verwant is. Hoegenaamd nie. Ou “One Light” is so genoem weens sy glasoog. Die naam kom van lank voor die ligte-era.
Ouma Marietjie van Wyk, Tokkie se weduweema, het in die 50’s al op ’n dag van ou “One Light” korte mette gemaak toe hy kom hondelisensie soek. “Hier blaf ek sommer self,” het sy hom in sy peetjie gestuur.
Nie vreemd nie in hierdie omstandighede is dat eggenote Tokkie. ‘n Bultfonteiner in murg en been, haar man onvleiend ou “One Light” genoem het terwyl hy met ‘n klappie op die oog moes loop nadat sy katarakke verwyder en nuwe lense ingeplant is.
Wel nogal vreemd is dat onvleiende byname destyds sonder skroom aan fisieke faktore soos ‘n glasoog gekoppel is – veral in die lig van deesdae se sensitiwiteite oor bv. die naam Amakroko vir SA se Paralimpiërs. In die ou Parlement was in die 60’s ook ‘n Volksraadslid “Botteloog”.
Vir glasoë bestaan nie net byname nie. Heelparty grappe het daarin hul oorsprong. ‘n Bekende is van die streng bankbestuurder met een glasoog. ‘n Kliënt gaan klop aan om ‘n lening, en word agterna gevra of hy agtergekom het van die baas se glasoog. Inderdaad, hy het. Hoe so? “Dis die enigste oog met ‘n bietjie menslikheid in.”
Nie ‘n grap nie, maar ‘n feit is die boer wat sy glasoog uitgehaal en op ‘n paal gesit het om sy werkers in sy afwesigheid “dop te hou”. Hulle het dit nie gewaag om lyf weg te steek nie.
Nie ‘n grap nie, maar amper ‘n ramp was toe ‘n studentemaat – deesdae ‘n mega-boer uit eie reg – se glasoog in die badkamer van ‘n ruskamp in die Wildtuin wegraak. Hy kon sweer hy het hom net daar in die hoekie neergesit. Later kom rapporteer hy verleë. Die oog was toe al die tyd in sy broeksak.
Jy kry selfs skuinserige oog-grappies. Met my tweede karatakverwydering en lensinplanting geslaagd agter die rug, sal ek seker een of twee skuinseriges veroorloof word.
By vriend Cas Jacobs, ‘n Karooseun van Carnarvon, het ek die storie gehoor van die ou wat in die Katkisasieklas maar gesukkel het. Op ‘n keer moet hy uit die Bybel ‘n stuk voorlees waarin die woord “sinagoge” voorkom. “Siena-siena-gogga,” kom dit hortend.
Nou watse sort gogga sou dit nou wees? terg die leraar.
“Wee –nie, dominie, klink of dit van die gearendheid van ‘n oogpister kan wees.”
Ouerig, maar deur swaer Fanie altyd so met entoesiasme vertel dat dit splinternuut klink, is die storie van die oom wat hospitaal toe is vir ‘n oogoperasie. Hy lê n sy kooi, gereed om teater toe gestoot te word, toe die jong verpleegstertjie opdaag, kwas en ‘n skeermes in die hand.
“Nee, nee,” protester hy en keer vir ‘n vale. “”Ek is hier vir ‘n oogoperasie”.
Sy bekyk fronsend die papiere en kom dreigend nader, skeermes oorgehaal vir aksie. “Oom, hier staan dit tog duidelik. Oom is hier vir ‘n horingvliesoperasie.”
Gelukkig in die Kaapse Ooghospitaal daardie klas misverstandjie vrygespring!
(Oor die naam “katarak” het ek in ‘n vorige blog geskryf. Daarop die volgende kommentaar van die oogarts ontvang: “Die naam ‘katarak’ kom inderdaad van die Grieks wat ‘n waterval of stroomversnelling beteken. In die antieke tyd was daar nie die toerusting om die oorsaak van swak visie te bepaal nie. Eers as die katarak so ver gevorderd het dat die pupil wit geword het en die voorkoms van ‘n stroomversnelling gekry het, is dit dan ‘n katarak genoem. Sulke gevorderde katarakte word deesdae nie meer dikwels gesien nie. Dit kom meestal in afgelee gebiede voor waar mediese hulp nie geredelik beskikbaar is nie. Siende dat Suid-Afrika ‘n droë land is met min watervalle, het die ou mense hier dit dan so ‘n gevorderde katarak wat wit vertoon het in die pupil, ‘n pêrel genoem.”)
Comments