Hoekom is die vreeslike gebeure rondom die dood van Oscar Pistorius se meisie die perfekte storie?
Dit het reeds ‘n ongelukkige einde, om die minste te sê, selfs al is daar nog nie ‘n hofuitspraak gemaak nie. ‘n Gelukkige storie trek nie soveel aandag as ‘n ongelukkige storie nie. Trouens, as skrywers net gelukkige verhoudings in hul verhale uitgebeeld het, het nie een van hulle boeke verkoop nie. Hou die twee romantiese karakters so ver en so lank moontlik van mekaar af weg gedurende die storie. Anders wil niemand dit lees nie. Geluk is nie interessant nie. Hierdie storie is die teenoorgestelde van gelukkig. Ek dink dis min of meer hartverskeurend.
Oscar Pistorius is beroemd. Nie net beroemd soos in hy het 1 100 Facebook-vriende nie. Oscar Pistorius is ver daarby verby. Met sy lemme aan sy bene, beweeg hy in ‘n ander stratosfeer. Die gesig van 2012 se Olimpiese Spele. Les bes, die bitter aantreklike gesig. Die gestremde atleet met die helder oë en weerlose mond. En al die foto’s wat nou van sy gewese vriendin geplaas word? Daar’s nie ‘n gemaklike Afrikaanse woord daarvoor nie. Sy was ‘n pin-up girl.
Skoonheid. Oscar Pistorius lyk so goed op foto’s. Van al die internasionale koerantvoorblaaie van die dag vanoggend, was die Irish Times s’n vir my die allerbeste. (Die foto is nie meer op hul tuisblad nie, dis al vervang soos wat nuwe strata nuus bygekom het en ek kry dit nie meer opgespoor nie.) Op die foto word Oscar Pistorius se gesig van die reklamebord van M-Net of DStv verwyder. Sy gesig lê groot, grotesk en verkreukeld op ‘n groen grasperk.
Geweld in Suid-Afrika. ‘n Lieflingtema. Sekerlik oor dit ‘n probleem is. Maar steeds ‘n tema waaroor niemand uitgepraat raak nie. Want almal is bang vir doodgaan.
Om die raaisel te ontrafel is verslawend. Niemand weet wat regtig gebeur het nie. Almal bespiegel onophoudelik. Bo-oor die Staatsrede, bo-oor enige groot nuus of alledaagse gebeure … hierdie storie trek aandag op buitengewone skaal.
Valentynsdag. Toe gebeur dit ook nog op Valentynsdag, maak nou nie eens saak wat die ware gebeure rondom die saak is nie. Ons weet nie iets anders nie. Ons weet net die vreeslike gebeure het toevallig in die vroeë oggendure van Valentynsdag gebeur. Die kersie op die koek.
Die joernaliste is nog lank nie uitgepraat nie. Hierdie bepeinsing oor die Britse media se hantering van die storie, laat mens nogal dink.
Maar snaaks, hierdie is dalk die perfekte intrige-materiaal, maar glad nie ‘n lekker slaaptydstorie nie. En mens wonder of enigiemand gaan rus totdat dit duidelik is wat regtig op 14 Februarie 2013 gebeur het.
Naskrif. Vergewe my as ek nie bespiegelende kommentaar oor wat gebeur het, hieronder kan lewendig merk nie. Totdat die reg sy loop geneem en die hof ‘n finale uitspraak gemaak het, is alles rondom hierdie gebeure regtigwaar net fiksie (en ons almal skrywers van ons eie denkbeeldige verhale van wat hier gebeur het).
Comments