Mense wat Sabiepark se piekniekplek ken, sal seker nie verbaas wees nie dat daardie seer geliefde stukkie grond aan die Sabierivier in my oë die heerlikste werkplek in die land is.
Die man wat daar die septer swaai, Organ Ongeni, se dag kan insluit ‘n leeuvangs vlak voor sy oë, ‘n trop olifante wat met ‘n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete skielik swart spikkel. Soms kom soek ‘n luiperd sonnetjie of maak dorstige renosters ‘n draai.
Met ‘n kamera wat hy present gekry het, het Organ al ‘n indrukwekkende fotoportefeulje opgebou. Hy het hom in die neem van natuurfoto’s begin verdiep, en verras vriend en vyand met die voortreflike foto’s wat hy so tussen sy ander werksaamhede deur by die piekniekplek neem. Sabiepark se eienaars kan nie genoeg van sy spogfoto’s op hul Sabiepark-webblad kry nie.
Organ Ongeni.
As kind het hy een oog in ‘n spelery met maats verloor. So met die een oog, is hy egter vinnig om elke teken van lewe waar te neem, op ‘n goeie fotohoek te besluit en met ‘n ferm hand te fokus. Daardie ferm hand bied hy vriendelik aan as jou eie hand met die skielike aanblik van ‘n luiperd of ‘n leeu te veel bewe om ‘n goeie foto te neem!
Gister verras Organ my met twee pragtige foto’s op sy kamera: ek en gade Tokkie wat op ‘n gunstelingbankie sit en kyk hoe ‘n stewige teeltrop olifante wat in en langs die Sabierivier paradeer.
In amper 20 jaar het die Van Deventers kosbare Sabieparkfoto’s versamel. Hierdie is van die kosbaarste. Die twee oues op die bankie wat die grootvoete dophou, is treffend simbolies van die oneindige plesier wat die plek ons gee. Die foto – amper se ek ikoniese foto – gaan beslis ‘n ereplek teen die muur van ons woonkamer by Wildevy 154 vind. Dankie hiervoor, Organ – ek skuld jou, my vriend.
Maar so spesiaal soos die foto vir ons is, is dit nie die enigste rede vir verskuldigde dank aan die piekniekplek se nederige, wellewende en altyd hulpvaardige baas van die plaas nie. Skoondogter, Mariza, het al daaroor geskryf, maar ek wil dit ook graag hier te boek stel dat Organ so goed is vir ons outistiese kleinseun, Migael (10), met sy sware vrag mediese probleme.
Die kombinasie van die rustige Sabierivier plus groot grasperk en gedugte bome) asook die meelewende Organ, self die vader van twee, het klaarblyklik ’n kalmerende invloed op die hiper-aktiewe seun. Hy sal doodgelukkig ure om saam met Organ blare ophark en ander takies verrig, terwyl sy pa, Johan, vir hom eiervrug braai. Vleis is een van die vele kosse wat, helaas, nie vir ou Migael beskore is nie.
In hul omstandighede is Sabiepark, en die piekniekplek, vir hulle ‘n ware toevlug as hulle in die somervakansie ‘n week of twee ‘n wegbreekkans kry. Gereelde uistappies piekniekplek toe is hoog op Migael se voorkeurlys.
“Oorgan is ‘n nederige man met ‘n sagte hart. Migael sien altyd uit om hom te sien. Hy maak altyd tyd vir Migael al is hy daarop gesteld om hard te werk om die piekniekplek so netjies en aantreklik as moontlik te hou,” meen Mariza.
Organ se buitengewone noemnaam kom van sy moeder se liefde vir musiek. Dalk is dit die rede dat hy foto’s neem wat soms ‘n Mozart-kwaliteit het – en dis ‘n pluimpie wat ek werklik bedoel.
Comments