Naspers 100 jaar – ‘n baie spesiale uitnodiging.
Op 18 Desember 1914, in ‘n Victoriaanse huis genaamd Heemstede in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, het sestien baanbrekers die Nasionale Pers gevorm.
Wat ‘n vooreg om presies een honderd jaar later by die einste plek deel te kan wees van ‘n viering van die trotse maatskappy se ontstaan. As daar een Desemberuitnodiging is wat ek waarlik troetel, is dit na daardie historiese middagete op Stellenbosch. Wonder watter das ek sal aansit – in elk geval een van die Pers.
My eie amper 74 jaar – ek betree op 3 Januarie my 75 ste jaar – is intiem met Naspers verweef. Dis een van die hoekstene van my lewe, soos my vrou, Tokkie; die kinders, Johan en Marisa; my kerk, die NG Kerk; my alma maters, Volkies en Tukkies; my politieke tuiste, die Nasionale Party (tot sy ontbinding); my bank, Volkskas (wat later deur Absa opgeslurp is); my geliefde bosplek, Sabiepark; my stad vir 24 jaar, Bloemfontein, en die Automobiel-Assosiasie (het ‘n 55-jaar-veteraanplakker in die BMW se ruit).
Die foto’s teen my studeerkamermure is bewys daarvan. Dit is Persfoto’s wat oorheers. My formele loopbaan van 36 jaar by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede –is agter glas heel volledig gedokumenteer.
Waar het dit begin? Wel, begin Januarie 1963 – meer as 50 jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap. Eintlik kom die verbintenis al langer.
As beurshouer dra ek van 1958 af ‘n Naspers-hoed. Maar in werklikheid was al ‘n Volksbladman voordat ek in 1947 sub A toe is – het die koerant plat op my maag voor my oupa se leunstoel in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, gretig deurgeblaai. Met die eeste verskyning van die vrouetydskrif Sarie Marais (nou net Sarie), op 6 Julie 1949, het ek op ‘n doktersbesoek saam met familie een vir ses pennies op straat in Bloemfontein vir my ma gekoop. Dit is een van ‘n hoop ou koerante en tydskrifte wat ek bewaar.
In die 36 jaar as amptenaar van die Pers het ek heelparty historiese momente beleef. Toe die knoppie gedruk word vir die eerste uitgawe van Beeld was ek, die eerste nuusredakteur van daardie koerant, by die rolpers in Doornfontein. Toe die eerste Die Beeld (Sondagblad voor Rapport) verskyn, was ek een van die Bloemfonteinse subsredakteurs wat Saterdagaande uitgehelp het. By Die Volksblad was ek as redakteur betrokke by die oorskakeling na volkleur en na ‘n oggendkoerant. Gemeenskapskoerante soos Ons Stad is deur my gestig. Met die koop van City Press en die vervanging van Oosterlig met Die Burger (Oos-Kaap) was ek uitvoerende hoof: koerante van Naspers (nie van Media24, soos soms verkeerdelik beweer word nie – Media24 het toe nog nie bestaan nie!)
Die verbintenis strek ook al ver verby die einde van my formele loopbaan. Einde 1997 het ek my kantoordeur as Uitvoerende hoof: koerante van Naspers vir oulaas in die Perssentrum aan die Heerengracht agter my toegetrek. In my aftrede, van einde 1997 af tot nou, het ek egter steeds Nasperser in my bloed gebly. Ek lees Media24-publikasies sewe dae van die week, skryf af en toe ‘n resensie of ‘n briefie vir publikasie en stuur nog soms ‘n nuuswenkie na die koerante of tydskrifte toe.
Ons praat van ‘n persoonlike verbintenis met die Pers van heelwat meer as die helfte van sy eerste eeu
Onder meer in twee boeke met ‘n outobiografiese strekking, Kroniek van ‘n Koerantman – ‘n persoonlike perspektief op die jare ná 80 (Tarlehoet, 1998) en In Kamera (Protea, 2003), asook in my Ineg-dokumenteversameling (PV 677) en in die eeufeesboek ‘n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad is ‘n hoop van my eie biografiese besonderhede opgeteken. Dit is ‘n pad wat ek nie weer hier wil bewandel nie.
‘n Boel herinneringe wel egter op. Daaraan sal ek kwaai moet sif want ek is hoegenaamd nie van plan om weer my hand aan ‘n boek te waag nie. Lesers van HvD se blog sal die skrywer egter vergewe as hy in nostalgiese oomblikke ‘n paar van die herinneringe lukraak gaan ophaal in die volgende paar blogs wat in hierdie ruimte opduik.
Comments