top of page
Uitmelkbos

“OORLOG” OP MELODY SE DEK

“Hennie van Deventer volg die spoor van die Melody deur gevaarlike waters  langs die Oos-Afrikaanse kus…” So word vanoggend op Media24 se boekeblaaie berig in ‘n kort bekendstelling van my boek “Na verre hawens”. Ek wonder hoeveel mense onthou die seerower-aanval op die Melody in 2009.

Die huidige gesagvoerder van die Musica, kaptein Ciro Pinto, was destyds in beheer van die Melody. Hy het laataand – toevallig juis oor die onwaarskynlikheid van seerowery in die geweste – met Suid- Afrikaners by ’n kroeg sit en ginnegaap toe twee verskrikte passasiers aangehardloop kom met die skoknuus: “Ons word deur seerowers aangeval!”

Die ongeloof was groot. Die verrassingsaanval was ’n verbluffende 1 000 seemyl (sowat 1 850 kilometers) van die Somalilandse kus af. Die twee het voet by stuk gehou. Hulle het hortend vertel van ’n snelboot by die boeg, en van dapper passasiers se stryd om die vasberade aanvallers af te weer.

Kaptein Pinto het toe alarm gemaak. Hyself het na die brug gehardloop waar hy die kluis oopgesluit en pistole aan die Israelse veiligheidsmanne aan boord oorhandig het. Die seerowers het blindelings met hul handgranate en AK 47’s op die skip losgebrand. Die Israelse veiligheidsmanne het teruggeskiet.

Dit het soos “oorlog gevoel”, vertel kaptein Pinto. ’n “Honderd koeëls” het om die koppe van die veiligheidsmanne gefluit. ’n Veiligheidsman het ’n ligte kopwond opgedoen en ’n passasier is in die been getref. ’n Reddingsboot asook talle patryspoorte is stukkend geskiet. Die kort, hewige skermutseling is deur die veiligheidsmanne en passasiers gewen. Die aanvallers is verdryf en later aangekeer.

Een van die passasiers op die MSC Melody tydens die aanval was mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai. Haar vertelling laat jou hare rys. Die tumult het losgebars terwyl die meeste passasiers op ’n binnedek na operasangers sit en luister het, vertel sy. Eensklaps het geweerskote met die applous gemeng. Die gehoor het net vuurvonke gesien soos die aanvallers met handgranate en AK 47’s op die skip lostrek.

Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gang is. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down, down.”

Passasiers moes dringend na hul kajuite terugkeer en is beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en hul oranje reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ’n bottel water en jamaikagemmer vir naarheid as vlug in die reddingsbote hul voorland sou wees.

Die nag het verder rustig verloop. Die oggend loer Koos versigtig by die deur uit. “Meneer kan maar gaan ontbyt eet,” stel een van die kajuitpersoneel hom toe gerus. Die volgende middag het ’n Spaanse oorlogskip en ’n helikopter hulle verder tot by die Suez kom begelei. Daarna is saam met ’n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend”. Sy sal nietemin graag weer daarheen gaan. Dit verstaan ek maar te goed. Dis ‘n opwindende vaart.

Dat die bedreiging aan die bemannning van die Musica vat en vir hulle spanning inhou, kon ’n mens egter agterkom, veral aan die senior offisiere. My eie direkte ervaring was as lid van die sogenaamde “MSC Voyagers Club” (passasiers wat voorheen al op ’n MSC-skip gevaar het). Ons is deur kaptein Ponti genooi vir ’n formele welkom-terug-skemerkelkpartytjie op Donderdag 9 Mei in die deftige Crystal Lounge.

Ons gasheer daag toe nie op nie, omdat ons in ’n “sensitiewe area” is en “belangrike sake” op die brug sy aandag vereis. So is ons meegedeel. Die waarheid is natuurlik dat hy op waak was oor moontlike verdagte bewegings in die gevaarlike waters.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page