Ons eie, plaaslike Viswyf het ’n blog geskryf oor vroue wat, wel, groot word. Lees maar self.
Dit het my egter aan die volgende, ware, staaltjie herinner. Clive Roos, ’n toenmalige baas van my, het dit self kom oorvertel. (Clive was op sy dag self ’n WP-rugby- en –krieketspeler, maar dit net ter agtergrond.)
Die geleentheid was ’n rugbydag tussen Rondebosh Boys’ High en Paarl Gimnasium. Clive was daar as ’n trotse ouer.
Nou, kyk, Rondebosch neem hulle rugby ernstig op. Baie ernstig. En hulle het een van die beste skoolspanne in die land. Daar is bitter min Engelse skole wat by hulle kan kers vashou. Selfs die privaatskole val baie dikwels vas teen Rondebosch.
Dié Engelsmannetjies is egter maar lugtig vir ’n paar van die Afrikaanse skole. Die boerklonge het gewoon soveel vleis op hulle dat dit maar bars in die skrum.
En so was dit ook daardie dag waarop ons storie afspeel. Rondebosch was in die Paarl om die Afrikaanse leeutjies in hulle eie hok te tem. Rondebosch het goed gedoen, en het alle fasette van die spel gedomineer, behalwe vir die skrums. Hoe skrum skoolkinders teen ’n pak wat dieselfde weeg as ’n klein trekkertjie?
En so gebeur dit toe ook dat Gim wéér ’n baie belangrike skrum wen. Heel gefrustreerd sê die ouer wat langs Clive sit: “Goodness. Just look at that! How do you think they get these boys to be so big?”
Waarop die Paarl-omie daar naby van sy braai af opkyk en sê: “Ou swaar, I’ll tell you our secret. Julle Engelsmanne trou mos met Barbie dolls. Ons Afrikaners trou met busse.”
Comments