Daar staan Madiba nou in brons, 9 m hoog, arms uitgestrek en kyk uit oor die stad Pretoria, waar hy as president ingehuldig is en die laaste drie dae voor sy begrafnis in Qunu in staatsie gelê het.
In hierdie stad, met sy naam diep ingekerf in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en ’n baken op landkaarte oral in die wêreld, lê dus ook onuitwisbare spore van hierdie legendariese vryheidstryder en ver-soener.
Maar nie net Madiba se persoonlike spore nie.
Ook dié van die vryheidstryd self, soos van die opmars van 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 na die einste Uniegebou om teen die paswette te betoog.
’n Mens sou reken dat die naam Pretoria in die lig hiervan vir die ANC ’n gewigtige simboliese en emosionele betekenis sou hê: die groot vesting wat verower is en waar ’n ander mag nou setel as in 1910 toe die indrukwekkende Uniegebou opgerig is.
Sou die ANC werklik nie in sy hart der harte verkies dat Madiba sy arms uitstrek oor die historiese stad Pretoria nie?
Is die naam Tshwane met sy onsekere herkoms en geweldige verdelingspotensiaal werklik vir hom meer as net spierebult en afknouery – ’n ydele gryp na ’n suigstokkie om kortstondig oor te kraai?
As die ideaal van versoening voor magsvertoon moet swig, kan die oop arms van daardie beeld maar afgekap word.
(My briefie uit Melkbos wat vanoggend in die dagblad Beeld verskyn het)
Comments