Ons sakformaat-generaaltjie het ons ontval en in die harte van Volksbladmense van verskeie generasies hang die vlag uit liefde en respek vandag halfstok. Nancy Oosthuysen (84) was fyntjies en kleintjies van postuur. Haar bydrae daarteenoor was enorm. Sy was knap, kordaat, lojaal, hardwerkend, propvol idees – alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag.
‘n Mens wens jy kon haar loopbaan statisties in perspektief plaas: deur byvoorbeeld hoeveel voorblaaie met impak uit haar skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld sy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel jonger kollegas sy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het. Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld bied van haar diens aan Volksblad. Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet jy egter maar op aanvoeling staatmaak. Myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van statuur.
Van Nancy – wat vandag op 84 oorlede is – het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas. Jaap was nie verkeerd nie. Hy het net die tydsduur onderskat.
Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, was sy een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om jonk te bly. Haar belangstelling in die koerant en sy mense – haar mense – het nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – selfs enkeles wat nou nog in diens is – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra.
Dit was vir die Van Deventers ‘n vreugde om die laaste klompie jare hier in die Kaap die Bloemfonteinse konneksie voort te sit. Ons het altyd in ‘n gees van kollegialiteit lekker saam met die Oosthuysens gekuier en herinneringe oor die goeie ou dae opgediep. Die leemte sal lank ‘n diep seer wees.
Comments