top of page
Uitmelkbos

ONS EIE MOSTERDSAADJIE


Die gastehuis Komweer in De Jagerstraat, Fichardtpark.


In die Evangelies van Mattheus, Markus en Lukas lees ons van die wonderbaarlike mosterdsaadjie. Nietige saadjie soos dit is, word dit ‘n boom met takke waarin die voëls van die hemel kom nes maak.

Van so ‘n mosterdsaadjie wil ek vandag vertel. Dit is die een waaruit die Volksblad-saamtrek van veterane van twee weke gegroei het. Uit elke windrigting het hulle as ‘t ware in die takke van die boom in Bloemfontein kom nes maak.

Die saadjie was die verskyning op my skerm van ‘n foto wat nie vir my bedoel was nie. Sarel Venter, kollega en vriend van baie jare, het dit en ‘n paar ander in hul huis in Fichardtpark, Bloemfontein, geneem om hul verre kinders in Adelaide, Australië, aan hul ouerhuis te herinner.


Hoekie van die sitkamer.


Toe hy die stuurknoppie op die rekenaar druk, beland dit onverklaarbaar, op digitale kronkelweë wat vir ons generasie se mense vreemd en onverklaarbaar is, ook in die uwe se in-mandjie.

Ek maak ‘n foto oop, herken die omgewing dadelik, en laat weet vir Sarel: “Ek ken daardie plek.” Sy e-pos kom terug: ja, dit is die Venters se sitkamer; “Kom kuier”. Ek, nie links nie: “Wat van ‘n saamtrekkie in Bloemfontein? Ek sal ry.”

Toe ek weer sien, begin die e-posse heen en weer vlieg.

Uiteindelik is 60 plekke op Saterdag 11 November in die Santa Ferestaurant by die Oorlogmuseum gedek. Die Vrydag het ons al begin kuier met ‘n tee (en ‘n glasie vonkelwyn) by Volksblad. Die oudste onder ons was Oom Gert Terblanche (95). Daar was ook kollegas van in die 80. Ons “jongklomp” van in die 70 was volop.


Sarel en Liesbeth Venter.


Die Van Deventers was so bevoorreg dat ons nie net weer met die gasvrye Venters se sitkamer kennis gemaak het nie. Ons was soos konings in die hoof-suite van hul gesellige en gewilde gastehuis in De Jagerstraat, Komweer. Ons het aangesit aan hul gulle tafel. Sarel, Liesbeth en hul jongste dogter Mart-Marie het ons van ‘n kant af bederf.

Die Vrydagaand het die hoofredaksie van my tyd (en ook in die termyn van my opvolger, Johan de Wet), saam in die tuin en om die lang tafel op een van die stoepe van Komweer gekuier.


Die lang tafel op die stoep.


Toe ek die eerste keer vir Sarel laat weet “ek sal ry”, het ek klein gedink: net in terme van so ‘n intieme saamtrekkie soos dié van die Vrydagaand. Maar Sarel het “skouers oopgemaak” (my uitdrukking van destyds om oor te dra dat ons op die voorblad van ons koerant ‘n groot storie moet hard slaan.)

Ongelukkig het ek vergeet met hoeveel veterane Sarel kontak gehad het. Dit was baie. ‘n Klomp sou wat wou gee om ook daar te wees. Afstand, omstandighede, ander verpligtinge en – helaas – ook ouderdom het hulle gestuit. Maar die mosterdsaadjie het inderdaad geil gegroei. Om in sy takke te vertoef en twee dae in sy koelte deur te bring, was verkwiklik. Dankie, Sarel en Liesbeth.

(Kontakbesonderhede: 051 522 3778, selfoon 083 7090 684, faks: 0866708251 of e-pos: ventersg@mweb.co.za) Deel dit:

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page