"Philae is talking to us!" Heard from Rosetta #CometLanding Mission Control!
* * *
“Ek wil iets sê en ek gaan dit sê.”
Vanaand was ek so opgewonde soos ’n klein seuntjie oor daardie tuigie wat op ’n komeet gaan land het. Die wetenskap is verstommend.
En tog, weet julle wat? Tog was ek ook vandag trots op skrywers. Want skrywers kan ons laat droom.
Wat ons vandag gesien het, was nie Wetenskapfiksie nie, maar Wetenskapfeit.
EN TOG. Iemand moes dit inspireer.
Laat ek verduidelik.
* * *
Jare terug het Leon Rousseau die Fritz Deelman-reeks geskryf. Die eerste boek is geskryf voor satelliete, maar in daardie dae het hy al die droom gehad dat jy eendag op jou stoel in jou kantoor sal kan sit en van aangesig tot aangesig met iemand anders kan praat.
Gisteraand het ek dit gedoen via Skype met ’n vriendin in die VSA.
En vanaand?
Vanaand het ek in my kantoor, op my stoel gesit en gekyk hoe die nommer 2 in Duitsland sy vinger optel, wys, nog ’n keer wys en toe, saam met ’n hele span groot wetenskaplikes, hulle hande in die lug gooi.
Ek kon dit waarneem asof ek in die saal was.
Wat meer is, ons het gekyk hoe hulle die landing vier van iets wat tien jaar gelede weggestuur is van die aarde af en nou 500 miljoen km van ons af op ’n komeet gaan land het.
Ongelooflik? Ja, amper. En tog waar.
* * *
Hoe ver het ons nie gevorder nie.
Kyk wat skryf Martie Preller op FaceBook vanaand:
Baie baie amazing. Toe hulle op maan geland het. was ons op univ - op pad na Bosveldplaas - by elke dorp stop ons eers en hoor by mense in kafee wat gaan aan! Nie radios in karre! Later opnames in fliek gesien!
Dit was die einste Martie wat vir my die skakel gestuur het om die landing se direkte uitsending te volg: ’n Skrywer wat kan droom, ’n skrywer wat kan inspireer!
* * *
Ek is ’n hopelose wetenskaplike. My arme ma was my wiskunde-onnie op skool en het by tye ook skeinat in my plat skedel probeer inkry. Tog, hoewel my punte beroerd was, het die liefde vir die wetenskap en die nuuskierigheid oor fisika nooit afgeneem nie.
Van die lekkerste projekte waaraan ek nog gewerk het, was ’n reeks ingenieurswesehandboeke. Ingenieurs is slim, maar hulle kan nie skryf nie. Ek kan skryf.
Die punt is, omdat ek kan droom, wil ek meer weet.
Omdat skrywers my kan uitdaag, raak ek grensloos opgewonde oor die wetenskap.
Ek is nie slim genoeg om die goeters te bou nie, maar ek is nuuskierig genoeg om hulle te geniet.
* * *
Om te skryf is nie altyd baie opwindend nie. Jy werk en jy werk en jy werk en jy werk... en jy werk meer. Dan is daar nie veel geld in nie.
Net voor Philae neergestryk het, sê Jaco Jacobs die volgende op FaceBook:
Op dae soos vandag wens ek ek het die beroepsvoorligter se raad gevolg en 'n dokter of 'n rekenmeester geword.
Wel. Ek is bly hy het nie.
Jaco inspireer mense om te droom.
* * *
Was dit nie vir dromers nie, sou mense dit nie gewaag het om tien jaar gelede ’n tuigie na ’n komeet toe te stuur nie.
Ek is deksels trots op die wetenskaplikes en wiskundiges wat dit gelaat werk het, maar ek weet daar in elkeen van hulle eens op ’n tyd ’n seuntjie of ’n dogtertjie was wat gedroom het.
Dis hoekom hulle bereid was om te waag!
Comments