top of page
Izak de Vries

Om doodsberigte te skryf


Huldigings aan Fanus Rautenbach en Tol Pienaar

Om doodberigte te skryf, is deel van ’n uitgewer se beroep, want om dood te gaan, is deel van die lewe. En uitgewers leef ná aan mense.

Om egter twee doodsberigte in een week te skryf, van mense wat so heeltemal uiteenlopend was, het vreemd gevoel.

Eers het Fanus Rautenbach gesterf. Kort na hom Tol Pienaar.

Ek gaan eers oor Tol berig, want hy is minder bekend as Fanus, maar ewe interessant.

U. de V. Pienaar is op 12 Augustus 1930 gebore. Hy behaal op 23-jarige leeftyd ’n PhD in histologie en embriologie aan Wits, waarna Raymond Dart hom summier as dosent aanstel, maar Tol, soos hy bekendgestaan het, wou veld toe.

Rocco Knobel, wat op daardie stadium aan beheer van die Parkeraad was, wou nie byt aan hierdie knaap se aansoek nie, want, het Knobel gesê, hy is oorgekwalifiseer.

Tol Pienaar het sy PhD in sy sak gedruk en gesê: “Toets my.”

Knobel hét, en Pienaar is aangestel as ’n junior-veldwagter. ’n Bietjie meer as ’n jaar later het ’n gekweste leeuwyfie hom gebyt, maar dit het Tol Pienaar nie gestuit nie.

Sy brein en insae in die natuur het ook gemaak dat hy gou weer meer akademies begin werk het.

- In 1961 is hy bevorder tot Bioloog.

- In 1974 word hy die assistent-direkteur vir Bewaring; vier jaar later word hy bevorder tot direkteur.

- In 1978 word hy die Parkopsigter van die Kruger Nasionale Park.

- In 1987 word hy die hoofdirekteur van SANparke, ’n pos wat hy tot in 1991 beklee het.

Gedurende sy dae as hoofdirekteur het hy hard gewerk aan ’n boek oor die Kruger Wildtuin – vanaf die dae toe die Sabie-reservaat in 1898 geproklameer is, tot en met die aftrede van die legendariese Kolonel James Stevenson-Hamilton, wat in Sabie aangestel is om die wild te bewaar, en uiteindelik die Kruger Wildtuin help vestig het soos ons dit vandag ken.


Dis ’n ongelooflike boek en een wat in elke natuurliefhebber se boekrak moet staan. Neem uit die verlede is te koop by Kalahari.net.

Oor Fanus Rautenbach gaan ek nie ’n lang stuk skryf nie, want hy is meer bekend en talle ander het onlangs sy lewe en loopbaan beskryf, beter dalk as wat ek dit kan doen.

Ek sal hom egter onthou vir drie goed:

- Sy stout grappies wat hom gereeld van die lug laat verdwyn het onder die preutse Nasionaliste,

- Sy pragtige werk wat hy oor die “hemelkinders” (mense met Downsindroom) gedoen het, en

- Staal Burger.

Ek onthou nog goed hoe ek by die radio gesit het om te hoor hoe Burger “doedie” sê. Van die plotlyne en die intriges onthou ek niks, maar die spanning en afwagting, dit kan ek nou nog terugroep soos ek hier sit. Protea het later hierdie reekse geboekstaaf.


Staal Burger en Wonderdade van Staal Burger is albei te koop by Kalahari.net.


Sy memoirs, Fanus Onthou En Sebastian Lag in die mou, is by Lapa uitgegee. By Tafelberg het daar meer onlangs ’n keur uit sy geskrywe werk verskyn, onder die titel Tien uit tien.

Maar wat sê jy nou oor Fanus Rautenbach? Hy was groter as stompsinnige opmerkings – om die waarheid te sê, hy het hulle verpes.

Ek het toe maar die volgende geskryf in ons huldiging: Mooiloop, ou grote. Gaan maak amok daar op die hemelse radiostasie – ons is seker die mikrofoon was al aan toe jy daar land. (Maak net seker dat Petrus nog nie die sensuurknoppie gedruk het nie.)

24 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

コメント


bottom of page