Die mooie Jan en ander Afrikaanse kortverhale, saamgestel deur Anine Vorster en Anita Stander. Resensie: Rachelle Greeff. (Rapport Boeke) Hiert! Hoe het dít gebeur? Skielik, uit die bloute, kom Rachelle Greeff en werp een van die belangrikste resensies vir ons tye hier voor ons oë neer. Dis een vir beginners – skrywers én uitgewers. Dis ’n resensie vir almal wat al die impuls gekry het om sy werk self uit te gee. Dis een wat aandui presies hoekom daar professionele uitgewers is, en hoekom daardie uitgewers kundiges gebruik om te sorg dat alles wat gepubliseer word, tot in lengte van dae deur kritiese lesers opgeneem en gelees kan word, sonder dat die skrywer die kop in skaamte moet laat sak en wens dat iemand hom of haar beskerm het teen sy/haar eie behoeftigheid en onbedrewenheid. Maar terwyl ek met die koerant en ’n koppie sterk koffie sit en lees, wonder ek toe of Rapport gedink het dis wat Sondaglesers nodig het om te weet? Wel, mens kan jou indink dat hulle ook die nuwe publikasiedebutante ’n kans wou gee, die geleentheid wou skep dat hulle aan ’n groter publiek bekend gestel sal word. Hulle het dus nie fouteer nie. As mens Rachelle Greeff se resensie deeglik analiseer, dan word die vinger hier gewys na die uitgewer (Kwarts-Uitgewers, vanwaar Gehasie?) en daarmee saam gee sy ook die beste raad wat enige aspirantskrywer kan kry: Wend jou altyd tot uitgewers wat baie krities is voordat hulle enigiets vir publikasie aanvaar. Nie omdat sulke uitgewers wysneusig is nie, maar omdat hulle hordes redakteurs en teksversorgers het wat jou sal help om juwele van jou woorde te maak.
Innie Shadows, deur Olivia M. Coetzee. Resensie: Ronelle Simmons (Boeke24) Terwyl ons op die onderwerp is: Hierdie boek is uitgegee deur ’n onbekende nuwe uitgewery. Ronelle Simmons se resensie is minder krities as Nathan Trantaal s’n, maar sy reageer wel met meer geesdrif en onderskraging as hy. Maar wat my opgeval het, veral wanneer sy uit Coetzee se roman aanhaal, is dat sy geen besware inbring oor die Kaaps nie. Trantaal het ook nie. Dit is duidelik dat albei die boek gelees het en gevoel het dat daar ’n onderliggende konsekwentheid in die taalgebruik is. Die Kaaps het nie tussen hulle en die begryp kom staan nie. So iets kan net gebeur wanneer ’n redigeerder en teksversorger deeglike werk gedoen het. Dit is dan ook die implikasie van Simmons se resensie, wat in gewone Afrikaans aandui hoekom die boek haar aangegryp het, en daardeur lesers vir die boek probeer wen wat nie in die daaglikse gang van sake hoegenaamd met Kaaps te make het nie. En daarom is Simmons se resensie vir my nuttiger as Trantaal s’n.
コメント