50 Jaar met Fred – Fred Mouton se beste spotprente, saamgestel deur Bun Booyens. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24) Joan Hambidge is darem ’n aanwins vir enige koor. Maak nie saak wat gesing word nie, sy sing saam. Hierdie keer oor spotprente. Sy weet van, oor ’n honderd. Ken al die name. Zapiro, Charley Hebdo, TO Honiball, DC Boonzaier, daais. Sy fluister die jongste skinner oor Anton Kannemeyer en Conrad Botes. Sy sit én die groot dreun én die hoë fluite in. Dis genoeg vir ons. Laat hulle wat ore het, luister. Die lees is egter nie altyd so maklik nie.
Vlug van die gees, deur Cas Vos. Resensie: Johan Myburg. (Boeke24) Dit verg ’n digter van formaat om ’n resensie van formaat, soos hier, te skryf. Myburg benader Cas Vos (elf bundels sterk, na dese) met deernis, begrip en waardering. Sy hele aanpak getuig van waardigheid. Met die herlees van die resensie besef jy bykomend met hoeveel smaak Myburg te werk gaan. ’n Resensent hoef nie alles uit te spel nie. Myburg se sterk punt is die briljante aanknopingspunt in die begin en die pad wat hy volg om by die laaste vier woorde van sy resensie uit te kom – en wat ’n treffende formulering is dit nie.
Robey Leibbrand: ’n Lewe van fanatisme, deur Albert Blake. Resensie: Bill Nasson (Rapport Boeke) Heerlikheid! Bill Nasson se resensie is só verfrissend anders. Reguit, op die punt af. Sy taalgeruik adem ’n ander era. Boksemdais, prima donna, hondsdol. Soms gebruik hy woorde wat die politiek korrekte Slangevanger van Grabouw so nooit as te nimmer sou gebruik nie, soos “kranksinnig”. Mens geniet die lees só dat jy wens die resensie was langer. Nasson verstaan die medium. Jy kry ook die gevoel dat hy kundig genoeg is om meer oor die onderwerp te weet as Albert Blake self. Dankie ook vir die Evelyn Waugh-aanhaling. “The fatal flaw of minor fascists.” Nóú verstaan ek vir Blink Stefaans.
Hond se gedagte, deur Kerneels Breytenbach. Resensie: Willie Burger. (Boeke24, Vrouekeur) Twee vir die prys van een. Elke hond kry sy dag in die DMZ tussen Geestelikheid en Geestigheid, maar niemand tree in die bres vir Rena Pretorius nie, nie eens haar oud-kollega nie. Wat word van ons volk?
Oopmond, deur Jan Vermeulen. Resensent: Jonathan Amid. (Boeke24) Dit sit nie in elkeen se broek om jeugromans te resenseer nie. Amid kaats sy bespreking teen ’n verwysingsveld van skrywers wat soortgelyke tema’s as Vermeulen aangepak het. Hy prikkel die koerantlesers met net genoeg van die verhaal. Mooi skoot! Vertel jou tiener hiervan, bekommerde ma. Ek kon egter nie uitpluis of daar wel ’n verwysing na Michael J. Fox in die boek is nie.
Sypaadjie, deur Alma Rossouw. Resensent: Maryke Roberts. (LitNet) Wel ja, jy sien, die resensie gooi my effens van my storie af want ek wil eintlik weet of dit die soort boek is wat ek kan lees terwyl ek my trekker bestuur maar nou weet ek nie so mooi nie want die 115 bladsye het verbygegaan teen 200 kpu sê Maryke Roberts en sy behoort te weet my vriend sy behoort te weet want sy lees sulke boeke wanneer die dokter haar laat wag en wanneer sy haar paspoort hernieu of wanneer sy ’n uur neem om ’n koppie koffie te drink terwyl sy lees. Maar wat weet ek? Ek het gedog resensies gaan oor die dinge in boeke, nie die dinge naas die boeke nie.
Comments