’n Kritiese skrywe op hierdie blog oor die stil-stil afskeid van Naspers onder ‘n swaar wolk van me. Lisa Albrecht, op haar dag eerste vroulike redakteur van Rapport, het destyds ‘n stortvloed weerstand uitgelok – veral uit die geledere van die huidige geslag joernaliste.
My argument was dat die koerante (en tydskrifte en TV) me. Albrecht opgebou het tot ‘n media-persoonlikheid. Toe sy skielik ophou om een te wees, was hulle aan hul lesers verskuldig om te sê hoekom dan. Vir my was dit moreel bevraagtekenbaar om ter wille van onduidelike redes haar skielike val van die troon onder ‘n mat in te vee.
“Sy is nie nuus nie. Weet Tant San op Worcester wie Lisa Albrecht is?” wou een redakteur by my weet. Maar weet Tant San wie is “Ameen Singh” (nie die regte naam nie)? was my onbeantwoorde weervraag. Want ook in Afrikaanse koerante is iemand met ‘n soortgelyke naam en van se teëspoed by ‘n klein Natalse radiostasie tog in daardie tyd as nuuswaardig genoeg geag om berigte oor te publiseer.
Die lang aanloop tot wat ek vandag op die hart het, is om my kaarte op die tafel te sit. Ek erken dat die Lisa Albrecht-episode my nogal laat wonder het oor my periodieke inklinasie om as 72-jarige oud-joernalis van ‘n generasie of twee gelede uitsprake oor die doen en late van die huidige besluitnemers te lewer. Omdat die ouderdom groter vreedsaamheid in die meeste onstuimige harte bring, het ek, trouens, so half en half besluit om my voortaan nie net uit die weer te hou nie, maar ook uit koerante se hantering van nuus.
Of dit wys is om vandag van daardie eie nuwe riglyn af te wyk, is ‘n vraag. Die joernalistieke bloed bruis egter nog. Die ou man voel al geruime tyd gedronge om hardop te wonder hoekom die gesamentlike bekroning van die Naspers-maatskappysekretaris, Gillian Kisbey-Green, en die swart baanbreker-joernalis joernalis Mathathu Tsedu met 2013 se Weberprys nie die Afrikaanse dagblaaie gehaal het nie. Die Weberprys is Naspers se hoogste eerbewys, en ‘n gesogte erkenning van voortreflikheid van 1984 af toe adv. D.P. De Villiers die eerste ontvanger was. Ná hom was daar groot geeste soos Piet Cillié, Ton Vosloo, Willem Wepener, om net drie te noem.
Kort tevore is Adriaan Basson (32) as nuwe redakteur van die dagblad Beeld aangestel. In Die Burger (en ook Volksblad, verneem ek) is oor die aanstelling niks gerep nie. Ek sou reken dat ten minste die man se jeugdige ouderdom – net ouer as 30! – sy aanstelling as ‘n nuusbrokkie sou laat kwalifiseer. Dit is immers ‘n rekord in die Pers. Die briljante Piet Cillié was 37 toe die redakteurskap van Die Burger in 1954 aan hom toevertrou is. Sy rekord het langer as ‘n halfeeu gestaan.
Sou die verswyging van top-bekronings en top-aanstellings wees omdat Media24 se koerante hul nuusnorme verander het? Klaarblyklik is dit nie die geval nie. Vanoggend gee Die Burger dan ruim publisiteit aan die bekroning van mense onder wie joernaliste – nie eens van Media24 nie – deur die sagtevrugtebedryf vir hul berigte oor daardie bedryf. Die bekronings is klaarblyklik verdienstelik, en ‘n mens gun dit die pryswenners dat koerante met die verspreiding van die nuus as’t ware vir hulle die kersie op die koek sit.
Hoe kry jy dan die kluitjie by die oor? Sou die stilte oor die Weber-pryswenners en Beeld se nuwe redakteur maar net ‘n aanval van beskeidenhed wees oor die maatskappy se eie mense? Is dit eenvoudig vrot nuusoordeel? As dit net misgevat is, ontstaan verdere vrae. Hoekom is die ommissie nie dadelik intern raakgesien en reggestel nie – tesame met ‘n paar agterente wat vuurwarm geskop is? As dit nie intern raakgesien is nie, beteken dit dat kontroles nie meer is wat dit was nie?
Vrae, vrae, vrae …..
(Naskrif: Wie sou by SABC2 verantwoordelikheid dra vir die samestelling van TV-nuusbulletins? Soos die Bismarck du Plessis-storie deur die TV-Nuus misgevat is, is ‘n sonde. In daardie opsig het die koerante hul elektroniese mededingers gelukkig deeglik ore aangesit.)
Comments