top of page
Uitmelkbos

NOMMER ASSEBLIEF

In 1941 toe ek in die hartjie van die Tweede Wêreldoorlog in Babanango gebore is, was die plaaslyn ‘n wonderbaarlike manier van kommunikasie. ‘n Telefoonsentrale by die poskantoor het die oproepe bestuur. Jou oproepkode was konfigurasies van vier luie: drie langes en ‘n korte, een lange en drie kortes en dies meer.

Die telefoon het elke keer by almal op die betrokke lyn gelui. Jy moes fyn luister om die regte “kode” te onderskei.. Om in te luister op mekaar se oproepe was vir sommige ‘n soort stokperdjie. Vele skinderstories het so ontstaan.

Hoeveel bakens is nie sedertdien geplant nie? Wat een dag nog as wonderwerk beskou was, was die volgende dag ou nuus. En my geslag het dit alles beleef. Hoe uitnemend bevoorreg is ons nie.

Woensdagaand 20 Mei was my eerste webinaar op Zoom. Dit was ‘n voorreg om ingeskakel te wees by die historiese “eerste”. Het nogal taamlik senuweeagtig sit en wag. Sê nou ek druk iewers ‘n verkeerde knoppie – en kapoef! Toe die beeld begin lewe kry, was dit of ‘n Everest bestyg is. Op my kroegie staan nog ‘n ou landsvlaggie (sjuut!). Kon gerus na buite storm en hom triomfantlik in ‘n blombak plant.

Die webinaar (‘n mens se woordeskat brei ook gedurig uit) was prikkelend, insiggewend en boeiend. Het wonderbaarlik vlot verloop. Ek lig my hoed vir die tegniese mense agter die skerms.

Sondag kom ‘n e-pos van kleinseun Jacob Claasens: uitnodiging tot ‘n Zoom-geleentheid. Die tema: “Ons mis julle!” Lekker gekuier so virtueel.

Vir Woensdag is ‘n derde Zoom –okkasie geskeduleer. Ek raak ‘n veteraan!

Oor presies hoe die ontwikkeling van die Alexander Graham Bell se instrument in my lewe verloop het, is ek, helaas, ‘n volslae leek. Seker honderde verfynings en moderniserings het al plaasgevind.

Ek onthou darem Klerksdorp se sentrale waar ek ná matriek in 1957 ‘n vakansiewerker was: voor jou ‘n muur vol klein gaatjies, en toue soos lang wurms met lang dun koppies wat jy in presies die regte gaatjie moes druk. (Kon een aand nie die versoeking weerstaan om te sit en inluister nie toe ‘n verslaggewer van Die Transvaler ‘n moordstorie inbel Johannesburg toe.)

Op Tukkies was die “langtiekie” in die jare rondom 1960 hoogmode. Openbare telefone is vuurwarm gebel met ‘n tiekie aan ‘n stringetjie. Jy laat sak hom, pluk hom uit, laat sak hom, pluk hom uit – totdat die “betaling” registreer en die oproep (meesal na jou meisie of jou ouers) deurgaan. Voorloper van deesdae se gratis gesels?

As jong vryer onthou ek die laasste stuiptrekkings van die driesyfer-era. My vrou, Tokkie (toe my meisie), was van Bultfontein. Ma Marietjie se nommer was 204. Jy skakel die kode vir Bultfontein; die sentrale doen die res. En hoe ingelig was daardie sentrale nie? “Nee hartjie, Ta’ Marietjie-hulle kuier vanoggend by Ta’ Ellie. Ek probeer daar.”

Ek was toe ‘n jong verslaggewer. Hope berigte is via openbare telefone Volksblad toe deurgebel: “perskollekteer”. Jy lui eers die poskantoor. Dié verneem by die ontvanger of hy sal betaal. Dan bel hy jou terug. Het nogal vernaam gevoel om ‘n “perskollekteer”-oproep te plaas.

Sekere langafstandoproepe was ‘n kwessie van bespreek, wag en desperate frustrasie. Soms soos ure gevoel. Terwyl spertyd nader kom en jy duskant brand van haastigheid.

Toe die 80’s. Aangename kennis, Mnr. Faks. Verstommend. Jy stuur ‘n volledige brief of berig sommer sito-sito na sy bestemming – nie meer letter vir letter soos op die telegraaf- of teleksmasjien wat toe die kommunikasiehart van die koerant was nie. Maar daai faks kon ook ‘n vloeksteen wees. Jy is besig om ‘n hoofartikel die lig te laat sien. Dan kom die sekretaresse by die deur in en plaas ’n stuk papier in die inmandjie.

Koebaai, konsentrasie. Nuuskierig, los jy eers alles en lees die faks. Soms onbenullig. Dekselse inbreuk op jou privaatheid, het ek dikwels geknor.

Laat in die 80’s het die rekenaar in my lewe gekom. Die era van warmlood was op sy laaste bene in koerantfabrieke. Tikmasjiene was op pad museums toe. Krisis! Hoe verkleef was ek nie aan my getroue Olivetti nie, en hoe wantrouig jeens die nuwe affêring met sy tentakels wêreldwyd!

In die 90’s, hier’s die selfoon. Sulke halwe bakstene wat ‘n klompie kilo’s weeg. Voortvarend, gee ek te kenne ek gaan dadelik een aanskaf. ‘n Kollega (later ‘n bedryfsleier) was skepties. Hoekom sou ‘n mens so ‘n onnodige oorlas met jou wil saamdra? Ons baas was Ton Vosloo. Gelukkig het hy my kant gekies,

Einde 1997 tree ek af. Toe begin dinge aan daardie front roer. Kommunikasie raak net al hoe meer gesofistikeerd. En in dolle vaart. Sal my liewer nie probeer slimhou oor die laaste twee dekades se ontwikkeling nie.

Tokkie sal my hopelik die storie vergewe oor hoe sy jare gelede nog net in haar allernodigste die buurman bel om hom geluk te wens. Nee, hy’s al werk toe. Sy bel soontoe. Beset. Sy bel weer. Hy antwoord dadelik: “Hi, Tokkie”. Sy wou onder die bed induik – oortuig dat hy haar in haar ontblote toestand kan sien. Later eers by die buurvrou gehoor hy het tussen haar twee oproepe met sy huis gepraat. So het hy gehoor dat Tokkie op sy spoor is.

Wel, hier kom Skype toe al die ander nuwerwetsighede – die I-pad, die I-phone, Whatsapp video calls, Facetime en wat nog. Hulle maak moontlik wat Tokkie destyds instinktief gevrees het. Maar liewe Skype. ‘n Buiging na jou is vanpas. Wat sou oupas en oumas sonder jou gedoen het in die era van kleinkinders oor die aardbol heen verstrooi?

En slimfone word net al hoe slimmer. Die weer? Kom ons kyk gou. Die pad? Kom ons kyk gou? Beurtkrag? Kom ons kyk gou. Die verstand duisel – veral as jy, soos die uwe, verbete bly klou aan jou uit die oude doos Blackberry uit die jare toet wat net kan bel en sms’e stuur.

Daaroor ‘n laaste storie voordat ek weer by Zoom kom. Dis van ’n vriendin wat Tokkie bel. Sy soek my Whatsapp-nommer. Hennie het nie een nie, antwoord Tokkie. Vriendin (verbaas-verergd): “Man, jy verstaan nie. Gee my net sy selnommer. Ek kan dit hanteer.” Tokkie: “Man, jý verstaan nie. Jy onthou toe Noag die duif uit die ark gestuur het? Wel waarmee hy teruggekom het, was met Hennie se selfoon!”

Maar hierdie Zoom-ding: soos ek hierbo probeer verduidelik het: dis waaragtig oulik. Wens so ons het dit al lankal gehad. Hoeveel duisende kilometers moes ek nie in my lewe reis – per vliegtuig, bus en motor – vir vergaderings en byeenkomste wat ons met die huidige tegnologie uit die gerief van ‘n kantoorstoel kon hanteer het nie

Met waters wat verby is , sal die meule nooit weer maal nie. Laat my nie afsluit op ‘n noot van nostalgie nie maar op ‘n noot van gedeelde opwinding oor ‘n nuwe era wat aanbreek. Oorvloedig is die dankbaarheid dat die ou gryse 1941-model in Mei 2020 saam daardie nuwe treetjie kon gee – al het hy nie eens ‘n Whatsapp-nommer nie!

Omnia mutantur nos et mutamur in illis.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page