Die eerste 17 jaar sedert ons 20 jaar gelede by ons Laeveldse hartsplek, Wildevy 154, Sabiepark, ingetrek het, was ons naaste bure Van Heerdenmense van Wes-Transvaal (nou Noordwes). Die naambord was ‘n straatnaambord: Van Heerdenstraat.
Seker so ses jaar gelede sit ek een middag op my stoep en lees toe ‘n kabaal by die Van Heerdenhuis losbars. Bobbejane! Die huis het sleg deurgeloop. Al die glasware is verwoes, meubels is gebreek, mure is besmeer en die reuk het jou laat terugdeins.
Die storie was dat Stilfonteiners in hul dominee se huis kom vakansie hou het. Op die laaste dag van hul vakansie ry hulle vir oulaas deur die Krugerhek wildtuin toe. Hulle grendel een venster nie dig genoeg nie. Toe hulle laatmiddag by die huis kom, wag die chaos op hulle. Hulle moes nie maar net vergeet om die aand ‘n vleisie op die kole te sit nie, maar ook om die volgende dag in die pad te val huis toe.
Hulle het soos kinders op die destydse parkhoof, Gerrie van Niekerk se skouer gehuil. Die twee se vakansie is met dae verleng. Maar dit was geen luilekker vakansie meer nie, wel klipharde werk om die dominee se huis skoon te kry en stukkende goed te vervang.
Daardie dominee was ds. Francois van Heerden (64) van Stilfontein wat saam met sy seun, Rupert (31), in ‘n skietery in die pastorie op Stilfontein dood is nadat die pa die oggend nog nagmaal aan sy nou verslae gemeente bedien het. Hy was dekades lank hul leraar.
Van die seun, Rupert, weet ek min buiten dat hy kort nadat ons by Sabiepark ingetrek het, in die sop was oor ‘n waaghalsige avontuurtjie in die Sabierivier. Hy het op die rotse gaan rondklouter tussen seekoeie en krodille. Een van die oewereienaars het hom voorgekeer, sy naam uit hom gepers en hom by die algemene jaarvergadering verkla. Dit was duidelik dat die ouers nie geamuseer was nie.
Waarom die nare goed my so agtervolg, weet ek nie. Eers was die Van Breda’s van Sabiepark 231 in ‘n gesinstreurspel. Nou die Van Heerdens van 155; ‘n aangename plek wat so twee, drie jaar gelede nuwe eienaars gekry het en grotendeels herbou is. Twee treurspelle in ‘n paar jaar. Klink amper te sleg om waar te wees. Wat sou dit met die mense van Wildevylaan wees?
Comments