Op haar bereiking van die Bybelse baken van 70 jaar, het ek deur my albums gesif vir ‘n foto van ons gewese Bloemfonteinse buurvrou Annette van Rensburg vir haar verjaardagkaartjie. Daardie foto wil ek vandag hier herhaal as huldeblyk by haar heengaan ‘n bietjie meer as drie jaar later op Kleinmond. Die foto illustreer watter jonkheid van gees Annette lewenslank uitgestraal het.
Op die foto (hierbo) vat sy kortpad tussen ons huisies in die Addo-olifantpark op ‘n saamkuier ‘n stuk of nege jaar gelede. Ons was ‘n paar dae lank weer bure in Addo soos ons in die dekade 80 ‘n hele paar jaar lank goeie bure in Bloemfontein was.
Soos Annette op die foto kortpad vat met n ratse sprongetjie van hul stoep na ons s’n, het sy gelewe: altyd vol lewenslus en “sports”. Sy het nooit gelyk – of gelewe – soos iemand wat 70 somers agter die rug het nie. Trouens, ‘n jeugdiger 70-plusser het ek nog nie raakgeloop nie, totdat haar gesondheid in Februarie begin agteruitgaan het. Dis ‘n jeudigheid wat hom, buiten in haar jong voorkoms, veral in haar avontuurlustigheid gemanifesteer het.
Een voorbeeld: Om die beroemde (berugte?) El Camino te stap. Diep in die sestig al, het sy met borrelende entoesiasme die uitdagende honderde kilometer met dapper en stapper afgelê, en haar vriende met opgewonde daaglikse rapporte kleurryk in die ervaring laat deel. Sy het haar man, Chris, saamgesleep – ‘n vermeldenswaardige prestasie in my oë. Ek haal my hoed af vir buurman Chris vir vele deugde (‘n gedugte braaier van vis, maar ook van enigiets anders – van frikkadelle tot kreef onder meer). Dat hy ‘n kranige stapper is, sou ek nie voor daardie epiese tog aan hom toegedig het nie.
Tokkie en Annette klink ‘n glasie.
So vlugvoetig soos Annette oor daardie muurtjie op die foto geklouter het, het sy ook graag rondgeklouter in die Kogelberg by Kleinmond waarheen sy en Chris verhuis het na sy aftrede as vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein. In hul woonkamer was op die koffietafel altyd allerlei publikasies met gedugte roetes, wat my op elke besoek benoud laat wonder oor wat sy vir haar kuiergaste in die skild voer.
Maar eintlik was Annette se horisonne wyer. Sy was ‘n wêreldreisiger. Soos Tokkie dit stel: Sy was die enigste mens wat ons geken het, wat sowel die El Camino as Machu Picchu, die “Verlore Stad van die Inkas”, op haar kerfstok het. Waar sy oral op die aardbol voetspore agtertgelaat het, en op hoeveel kontinente, moet ‘n formidabele bundel beslaan. Oral – soos met die El Camino en Machu Picchu – was haar reise allesbehalwe doodgewoon.
Noem haar gerus ‘n student van reis, wat vooraf elke roete met die grootste deeglikheid bestudeer het. Dan het sy haar skedule uitgewerk. Haarfyn. Geen bousel, rotsformasie, klip, boom of plant van betekenis sou sy oorslaan nie. Hoe antieker des te beter. (Sy het ook nie graag ‘n oudhede – of tweedehandse boekwinkel oorgeslaan nie, en het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om waardevolle dinge op stowwerige rakke uit te snuffel.)
Op ‘n tog deur Namibië enkele amper 30 jaar gelede het die uwe met daardie deeglike verkenningsvermoë deeglik kennis gemaak. Sy het my wat nog nie voorheen van ‘n ligeen gehoor het nie, o.m. behoorlik laat bontstaan met haar gretigheid om geen, maar geen, van dié groen, grys of geel organismetjies op geen rots of boomstam oor te slaan nie. Sy het ook nie, glo ek. Dit was nogal veeleisend!
Vir daardie toer het Annette ons reisplan uitgewerk – van Ais-Ais af oor Swakopmund en Khorixas, op Etosha toe en terug via Windhoek – wat waarskynlik selfs vir gebore en getoë Namibiërs talle verrassings sou opgelewer het. Sy het nie net elke afdraaipaadjie se bestemming geken nie, maar tot vooruit geweet waar op Luderitz ons die beste kreef in die hande sou kry. Dié het Chris in tierende wind die aand in die stort van die munisipale rondaweltjie tot perfeksie gebraai.
Perfeksie. Dis ‘n goeie woord om Annette se benadering tot enigiets te beskryf: van reis tot die kombuis. Ook aan laasgenoemde front was sy kranig. Daarvan kan hierdie gretige aansitter aan haar etenstafel (en verskeie sentimeters om sy middellyf) van harte getuig.
Annette was ‘n vriendin duisend. Vir haar twee dogters, Elana en Elindi. Vir al haar nuwe vriende en al die oues, soos die Van Deventers wat langer as drie dekades die voordeel van haar vriendskap geniet het. Ek wonder hoeveel flessies vonkelwyn ons deur die jare saam geledig het. Ook ‘n biertjie op sy tyd.
Ons groet met diepe hartseer ‘n sprankelende, lewensblye, vonkelende vriendin. Ons doen dit in dankbaarheid vir soveel heerlike herinneringe wat ons altyd sal bybly.
Comments