Ek moet tot siens sê, namens elkeen van die 1 500 lidmate. Dit is nie die maklikste takie wat ek al moes verrig nie. Elkeen begroet hierdie skielike emeritaat met sy/haar eie vrae, gewaarwordinge en emosies. Van verbasing tot verdwasing … die reaksie dek ‘n wye register.
Wat sake bemoeilik, is dat Francois geen ortodokse, doodgewone herder was nie – nes die sjarmante /elegante /pikante (kies eie woord) Riana geen bloudruk van ‘n tradisdionele Mev. Dominee is nie. Hulle is … wel … Francois en Riana.
Die woorde van Rykie van Reenen het by my opgekom . Oor daardie perskolos Piet Cillié het sy gesê: Daar was maar een soos hy. Toe voeg sy spitsvondig by: Dalk ook maar goed so. Daar was inderdaad ook net een Francois en Riana Hanekom. Of dit dalk ook maar goed so is? Laat elkeen maar self besluit.
Waaroor ons wel almal dit eens sal wees, glo ek, is oor hul innige menswees. Die twee mens-mense soos min laat jou voel dat die wêreld ‘n vriendelike plek is met goeie, wellewende medemense op wie jy sal kan staatmaak as jy oor n klip struikel. Ek dink veral die ouer garde en gebrokenes beleef Francois intens so. Bejaardes hang aan sy lippe. Gebrokenes skuil graag onder sy vlerk.
Almal sal seker ook saamstem: Francois is buitengewoon kreatief. Hy is lief vir alliterasie, bv. klinker-geloof teenoor kluitgeloof. By hom het ons gehoor van Kat-teologie en Honde-teologie, van God se ICU (I see you), van ballon-Christene en van manne se menoPorssche. Hy is vader van die begrip “preek in ‘n woefkardoes”. In ‘n stadium was die gereelde FvH op die skerm ewe bekend as sy rooi Shopritesak met lekkertjies vir die kinders. FvH staan terloops vir “faks van die hemel”.
Een van sy talente is sy gulle, verfrissende humor, wat soos ‘n fonteintjie uitborrel – dikwels in ‘n goedige gehekel met sy geliefde “Pop” as sy die dag die orrel beman het. En “Pop” is nie een wat haar onbetuig laat nie! Sy kan lustig terugpraat!
Hy is ook avontuurlik en ondeund. Soms het van sy preke die gemeente laat regop sit. ‘n Keer het ons regopper as gewoonlik gesit toe ons sy preektema verneem: “Hou jy van striptease?” Maar dit was net oëverblindery. Klaar geterg, word dit ‘n verrykende preek – “vintage” Francois.
Anders as sy kollegas, Marius Falck en Hennie Swanepoel, is Francois geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..”
‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois is, breek die son gou deur die wolke. Net so met Riana.
Ek het na die begrip “kluitgeloof” verwys. Die kluit het natuurlik ook ‘n ander simboliese betekenis, naamlik die kluitklap op die kis. Oor Francois kan’n mens nie klaar gepraat wees sonder om te vermeld hoe hy as prediker by gedenkdienste uitblink nie. Hy het die kuns bemeester om met ‘n unieke mengsel van deernis en humor die hartseer naasbestaandes so op te beur dat hulle glimlaggend die kerk verlaat.
Francois, jy moet my ook nog begrawe. Onthou, asseblief.
Comments