top of page
Uitmelkbos

‘N SAADJIE IS ‘N DING WAT SPRING

Op pad na Sabiepark se piekniekplek toe stap ons van Tarlehoet af in Wildevylaan by talle tambotiebome verby. Plekplek staan dit amper te dig. Op ‘n dag skrik ek vir ‘n saad – ‘n tambotiesaad – wat voor my allerlei energieke hop-hoppe uitvoer.

Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel. Later hoor ek dit spring darem nie op eie stoom nie, maar weens die insekkie binne-in.

Gister, wanneer kry ek van Frikkie Lombard van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal) die nuus dat daardie saadjie tot binne-in die formidabele woordeboek gehop het. Onder die letter “t” gaan hy daar sy monumentjie kry.

Met sy goedkeuring haal ek graag Frikkie se vriendelike brief aan. Hy skryf: “Hallo Hennie.Wil net laat weet dat ek jou ‘Bure van nature’ besonder geniet, vir die humor, leersame inligting en keurige taal. Verder wil die toeval dit so hê dat ek juis met die lees en ekserpering van jou boek ook die woordeboekartikel oor “tambotie” moet kontroleer. En daar kry ek toe ‘n sitaat uit jou boek wat ek gaan gebruik (met volle erkenning aan die skrywer en die bron): ‘Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel …’

Dankie, Frikkie. Voel ek nie gevlei nie! Dit alles weens ‘n ou saadjie.

Die WAT-man heg toe sommer die definisie wat die WAT vir tambotie het, aan. Dit lui: “Mediumgroot tot groot bladwisselende boom, <i>Spirostachys africana</i> (fam. <i>Euphorbiaceae</i>), tot 18 m hoog, wat ’n giftige, melkerige sap afskei, met ’n dik, growwe, donkerbruin tot swart bas met ’n kenmerkende blokkiespatroon, afwisselende blare waarvan die rande fyngetand is, goudkleurige tot bloedrooi blomme wat spiraalvormig op korterige, dun are gegroepeer is, sade waarin daar dikw. larwes van motte voorkom wat aktief begin beweeg sodra dit warmer raak, sodat dit lyk asof die sade rondspring, en harde, olieagtige, donkerbruin hout met ’n aangename geur wat veral i.d. vervaardiging van duursame meubels, mynstutte, dakbalke en heiningpale gebruik word, maar nie as braaihout nie omdat die sap ’n onaangename smaak aan kos gee en die giftige rook diarree kan veroorsaak, en wat veral in laagliggende streke of op heuwels in al die lande in suidelike Afrika, behalwe Lesotho, tot so ver noord as Tanzanië aangetref word.”

Presies. Dis net die tambotie daai. En moenie daardie waarskuwing oor die gebruik van tambatoe as braaihout gering skat nie. Jou vleis smaak glad nie lekker wanneer dit op tambotiekole staan en sis het nie. Maar nie lekker smaak nie, is die minste van jou probleme. Die giftige rook gaan jou ten minste laat hôl vir die naaste toilet. Dis nou maar wors. Dit kan selfs dodelik wees , word gewaarsku.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page