Zachariah was een van Mowbray se bekendste inwoners. Sy adres was die groot bos langs die M5, óf die groot bos regs van die parkie. In die winter had hy glo by tye ’n aanbod van onderdak in ’n garage aanvaar.
Toe ons ’n paar jaar gelede ingetrek in Mowbray, het ons buurman my sommer die eerste dag al vertel van Zachariah en onmiddellik gesê hy is skadeloos. Komende van hom, ’n oud-polisieman, was dit gerusstellend.
Dit was nie lank voor ek vir Zach ontmoet het nie. Sonder ’n enkele tand in sy mond het hy gelag en gegroet en begin vertel.
Zach se stories was by tye moeilik om te volg, en ander kere heeltemal onverstaanbaar. In sy helderder oomblikke kon ek sy Engels redelik volg, maar in sy dowwer dae was dit meestal ’n gebrabbel met enkele verstaanbare woorde.
Zach het die somers geniet en het telkens in die parkie op ’n bankie gesit. Dan het hy soos ’n Lord gelyk wat oor sy trotse besitting uitstaar. In die winter het hy ook die sonnetjie opgesoek, maar dan was dit merendeels om die klere droog en die lyf warm te kry.
Een middag, tydens een van sy helder oomblikke, het hy my ’n lesing begin gee oor die hadidas in die park. Ek kon nie die hele lesing volg nie, maar dit was duidelik dat hy homself gesien het as die beskermheer van die “government birds” wat hier rondgewei het en dat hy ontsteld was daaroor dat mense hulle soms jaag. Is dit omdat my twee brakkies niks meer geniet nie as om die hadidas te jaag?
Ek weet nie, al wat ek weet is dat ek sedert daardie dag nooit weer aan hadidas kan dink sonder om hulle te wil “government birds” noem nie.
Zach is hierdie winter oorlede. En iemand, ek vermoed ek weet wie, het die ander dag ’n steentjie ingemessel in die muur, mooi tussen Zach se bankie en Zach se bos. Die inskripsie lees:
In memory of Zachariah, who lived so serenely and humbly among us for so long.
Rest in peace, Zach, we will miss you.
Hierdie inskrywing is ’n erkentenis aan Zach, maar ook aan die inwoners van Mowbray wat vir Zach tussen ons laat leef het, sodat ons ook van hom kan leer.
Ek het soms na Zach gekyk en daardie aardige gevoel gehad dat ek moet dankbaar wees. Hoe lui die sêding? “But for the grace of God there goes I.”
Saluut Zach. Ek het hierdie reënboog in jou parkie afgeneem; ek het net langs jou bankie gestaan toe ek die knoppie gedruk het. Die government birds gaan goed aan.
Comentarios