Die Dameskring se flukse dames het my verras met ‘n oulike uitstalling.
Hoe gooi ons, die gewone voetsoldate, wal teen die tsoenami wat oral teen Afrikaans aan’t opbou is? Ek het gister ‘n paar wenkies probeer gee by die Dameskring Simfonie op Kuilsrivier. Het hulle toegespreek oor: My hart klop Afrikaans.
‘n Klein begin is dalk by ons alledaagse omgang, het ek aangeraai. Kom ons hou op om oral en altyd vir anderstaliges please en thank you te sê. Ons kap daardie woorde uit ons woordeskat. Ons sê net asseblief en dankie, soos die Franse silvous plaiz en merci sê.
Wie nie weet wat “dankie” beteken nie, sal gou agterkom. Dit het ‘n vinnige eksperiment by ‘n winkelsentrum (‘n mall?) geleer toe ‘n Suid-Afrikaanse parkeerwag my dankie vir sy Nigeriese kollega vertaal. Toe hy snap, is ek met ‘n breë, hartlike glimlag beloon.
Probeer ‘n dag lank net Afrikaans praat. Vermy modewoorde soos awesome (fantasties, wonderlik, ongelooflik, ontsagwekkend, asemrowend), cute ( oulik, skatlik, lief, ougat)amazing (merkwaardig, verstommend) en issue (kwessie, saak, aangeleentheid, vraagstuk, probleem, twispunt, strydpunt, geskil(punt).
Kyk gerus hoe jy daarmee kan cope om minstens een dag géén Engelse woord te gebruik nie.
Kom ons mik na beter Afrikaans. Om ‘n woordeboek/ die Woordelys te raadpleeg as jy twyfel, is nog altyd ‘n goeie resep om jou taal suiwer te hou. Hier is egter ‘n nuutjie wat dalk by vele nog onbekend is. Ek verwys na die webblad Beter Afrikaans. Afrikaanssprekendes, en selfs aanleerders van Afrikaans, kan hier gratis meer oor die spel- en skryfreëls leer.
Registreer net. Dan kan jy elke weekdag ‘n speltoets in minder as twee minute voltooi – hetsy op ‘n rekenaar, tablet of selfoon. Die speltoets bestaan uit vier veelkeusevrae; sodra die vrae beantwoord is, ontvang jy onmiddellik ‘n kort bespreking oor die korrekte antwoorde. (Tot my irritasie haal ek selde meer as 75%.) Onderwerpe soos los of vas skryf, hoofletters, homonieme, idiome en intensiewe vorme word ook verstaanbaar toegelig. So kan nuwe wêrelde vir jouself en vir leerlinge oopgemaak word.
Ondersteun ambassdeurs vir ons taal. Kyk uit vir sake wat lekker Afrikaanse name het – van die bed-en-ontbytplek Koffie en Katel tot by Papnat-Besproeiingsdienste. Op Stellenbosch is werklik ‘n Skitterblink-Wassery. Koop jou wyn by Hermanuspietersfontein – sy wynname en -etikette is net in Afrikaans. Bloos, Swartskaap en Kleinboet – wyn met sulke name word nou al in nege lande verkoop, van Engeland tot Swede. (Koop ‘n bottel Swartskaap in Oslo!)
Die bemarkers dink dit verleen kleur aan hul produk. Niemand kla nie. Die wynmeester wat als begin het, Bartho Eksteen, het onlangs die Wynskool gestig. Hy sit die prysenswaardige inisiatief daar voort. Ry gerus ook maar daar aan.
Vat hande met organisasies soos die ou moeder die FAK, die ATKV, die Afrikaanse Taalraad, die Vriende vir Afrikaans, AfriForum (veral sy Afrikaans Vriendelik-veldtog) en ander. Binne een van hulle behoort jy ruimte te vind om jou liefde vir jou taal uit te leef soos jy graag wil. Dis die enjinkamers waar vure van geesdrif gestook moet word. Dis waar kreatiewe Afrikaanssprekendes hul planne, idees, inisiatiewe en strategieë gestruktureerd op die tafel kan kry.
Ondersteun instellings wat die taal dien. Die Afrikaanse media, koerante soos Die Burger, Beeld en Volksblad, tydskrifte, Afrikaanse boeke en TV-kanale soos kykNET is vaandeldraers van die Afrikaanse taal. Ondersteun hulle …… selfs as jy kwaad is vir die koerant, soos hierdie ou man met al die ink in sy are ook maar meermale is.
Lees Afrikaanse boeke. Hierdie oproep is veral gerig tot leeskringe, wat hulle skandelik te dikwels op oorsese best sellers toespits.
Vermy aanstoot. Veral by feeste loop brekers met kru T-hemde wat bakleierige boodskappe oor Afrikaans uitdra. In die wildtuin het ‘n skoolkind, bogsnuiter, in ‘n spinnekopskriffie in die besoekersboek van die Stevenson Hamilton-besoekersentrum hierdie boodskap uitgekrap: Praat Afrikaans of hou jou bek. Wonder wat dink die verfynde swart vrou wat die lessenaar beman van sulke taal-uitlewing en uitlewers!
Borg ‘n woord. By die WAT kan jy ‘n woord, enige woord, teen R100 borg. Vir R5 000 behoort die woord eksklusief aan jou. Ek noem trots dat die woord koerant myne is, net myne. Het gedink Naspers behoort dit op te raap. Ek borg ook die woord joernalis. Ons Probusklub op Melkbos, ‘n vesting vir afgetredenes, borg op my aanbeveling die woord kuier. Ek verstaan die woord Dameskring is nog beskikbaar.
My laaste gedagte spruit uit my vrou, Tokkie, se lees van my oud-kollega Jaap Steyn se monumentale biografie van Van Wyk Louw. Louw vertel daarin hoe hy by Sutherland se plattelandse kinders geleer het dat speel-met-taal ‘n hoë vorm van vermaak is – “rympies, raaisels, woordspelings, stories vertel, terg en pla, die uitdink en smaaklike gebruik van byname.”
Om te wens dat hierdie kultuur in die moderne era met sy tegnologiese wondere kan herleef, sou sekerlik buitensporig wees. Maar kreatiewe oumas kan dalk tog iets van Afrikaans in hul kleinkinders se spel probeer insmokkel. Gee die kleingoed plesier en skerp terselfdertyd hul taalbewustheid op.
Kan ‘n mens dalk begin om jou kleinkind op die spoor te sit om ‘n oorspronklike Afrikaane naam vir sy of haar troeteldier te gee? Hou nogal van Skedonkie die donkie en Katastrofe die kat. Vat hom, Flaffie, ek bedoel Blaffie.
Comments