top of page
Uitmelkbos

‘N DONDER-DAG

Oor ‘n dag soos gister – nogal ‘n Donder-dag – sou ‘n mens jou maklik aan selfbejammering kon oorgee, deur jou tande sis van woede of ongereserveerd aan die swets gaan. Dalk bied ‘n suurderige glimlag van gelatenheid die beste invalshoek om die storie oor te vertel. Ek doen dit chronologies.

Ons vertrek omstreeks 12:00 per motor op Melkbos in die hoop om teen 12:30 by Table View ‘n MyCiti-bus stad toe te haal. Ons moet ons Griekse visums gaan haal vir ‘n vaart wat by Katakolon (naby Olympia, geboorteplek van die Olimpiese Spele) die Schengen-gebiedswaters betree.

Net by Blaauwberg Netcare verby staan die verkeer op die R27 botstil. Vir senutergend lank. Later sien ons die rede. Tenks op reuse-vragmotors, ratels, bosvarke, rooikatte en watter weermag-hardeware nog stroom van Blouberg se kant in. Hoe op dees aarde kon ons vergeet het van die Gewapendemagtedag in die Kaap!

Ons druk egter dapper deur, vertraag maar volhardend. Eindelik is ons op die bus – ‘n boordensvol ene. Gelukkig bestaan iets soos “voorkeursitplekke”. Vir brose oumense met kieries moet jy reels en regulasies opstaan as jy daar sit. Dit doen ‘n bedagsame jong man sonder dat ek hom hoor brom.

By die burgersentrum lol dinge weer. Die 105 na Seepunt via Strandstraat (wat ons bestemming is) ontbreek geheel op die skerm van die volgende 30 minute se verkeer, maar hy kom, hy kom, word ons verseker. Ná ‘n halfuur kom ‘n 105 wel. Die deure skuif oop. Ons wil opklim, maar nee, nee. Sien, die bus word aan diens onttrek weens die gebrek aan ‘n drywer. Ons wag maar geduldig nog ‘n kwartier op daardie onverklaarbaar ontwerpte bankies met die sitplekke skuins na voor asof ‘n mens gom aan jou boude het. Woerts ry hier ‘n 105 verby sonder om te stop.

Gelukkig is ons darem betyds by die visumkantoor.

Gedagtig aan die gevaar van onbetroubare skedules besluit ons om – besigheid afgehandel – liewer Adderleystraat toe aan te stryk waar ‘n lewendiger busverkeer as in Strandstraat te wagte kan wees. In Adderley, onder die neus van Oom Jan van Riebeeck se standbeeld, voel ek ‘n harde stamp van agter.

Feitlik by die bushalte kom ‘n man van agter en lig my in: “You dropped your cellphone on the corner.” Wat nou? Terugstap is nie ‘n haalbare opsie binne my fisieke vermoëns nie. Tokkie wil maar ek keer haar. Klink vir my bra verdag. Dus maar selfoonloos verder. Die afskeid is swaar want ek was geheg aan my ou Blackberry sonder fieterjasies soos ‘n skerm wat jy met jou vinger boontoe en ondertoe rondskuiwe, internet en indringerige “toeps” (wat ‘n nare woord) soos whatsapp.

By die halte wag nuwe onheil. ‘n Man gebou soos ‘n Stormer-slot vermoed ons het verneuk en met een kaartjie deur die voudeur geglip. Ek protesteer dat ons twee kaarte het maar die man is onverbiddelik. Iemand vat ons kaartjies en laat vat iewers heen. Hy moet gaan vasstel of ons sluipryers is – wat ‘n “penalty” meebring, hoor ek. Wonder hoeveel nogal. Gelukkig kom die uitspraak: onskuldig op die aanklag.

By Table View wil ek, soos aangeraai, ‘n simkaartomruiling doen. Al gehoor van fica? Hier byt die besigheid my weer. Nee, waar is my bewys van adres. Kos my en Tokkie eers bank toe ry om by ‘n ATM ‘n staat te trek. Nou weet ons darem ook hoe dit werk. Daarna terug MTN toe. Die keer werk die prosedure seepglad.

Ek sien die Engelsman skryf my naam Hendrick met ‘n oorbodige “c”. Vir een middag het ek egter genoeg gely. Ek hou dus my bek, betaal my R3,50 en swaai my voertuig se neus weswaarts.

Op my kroegrak staan ‘n botteltjie “Black Label” wat ek by ‘n welwillende vriend present gekry het. Hy (die whiskey, nie die vriend nie!) is daar net vir spesiale okkasies. Ek skink vir my ‘n stywe dop (dalk ‘n dubbel?), kies ‘n CD en ontspan. Die snit wat ek speel is “The end of a perfect day” – ‘n gunsteling uit my skooldae in die 50’s.

Op die nostalgiese wysie neurie ek my eie woorde terwyl ek filosofies nadink oor al die pynlike lotgevalle van die laaste paar ure. Die Van Deventer-weergawe lui so: “When you come to the end of a dreadful day and you sit all alone with your sore.”

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page