Ek het in ’n vorige skrywe vertel hoe die uitgewers marknavorsing doen en boekhandelaars invra oor ’n boek voor daar besluit word op die drukoplaag van ’n boek.
Wouter Immelman vra toe ’n uitstekende vraag, en een wat ek graag wil beantwoord.
Maar, voor ek enige iets verder sê, eers die volgende:
1. Die standpunte wat ek hier gaan stel, is my eie. Dit is nie bespreek met my uitgewer nie en reflekteer ook nie noodwendig die siening van my werkgewer nie.
2. Ek is ’n uitgewer van beroep, maar ek het my boek aan Tafelberg voorgelê soos enige ander skrywer. Ek is glad nie in diens van Tafelberg nie, ek werk, om die waarheid te sê, vir die opposisie.
Hiermee dan eers Wouter se navraag.
Beste mnr. De Vries Baie geluk met u boek. Daar is egter iets omtrent u skrywe hieroor in u vorige bloginskrywing wat my diep verontrus. Die indruk word geskep dat die uitgewery se bemarkingsafdeling die finale sê het oor of 'n boek gepubliseer moet word al dan nie. In u geval, wat 'n reputasie het as 'n skrywer van 'n stewige literêre standaard, sou 'n mens verwag die literêre gehalte op sigself is genoeg rede om die boek uit te gee. Beteken dit nou dat markkragte uiteindelik die belangrikste oorweging in die boekwêreld geword het? En as 'n nuweling 'n manuskrip voorlê met onteenseglik literêre waarde, die uiteindelike beslissing oor die publikasie daarvan al dan nie afhang van 'n bemarkingsafdeling - oor wie se literêre kennis 'n mens buitendien vraagtekens kan plaas? Groete. Wouter Immelman
Hiermee dan my antwoord:
Beste Wouter
Gewoonlik as iemand my “mnr. De Vries” noem, voel dit of ek in die moeilikheid is, sal dit dus oukei wees as ons van hier af op voornaamterme aangaan?
Hier is die eerste deel van my antwoord: As ’n manuskrip by ’n uitgewer opdaag, sal daardie manuskrip baie beslis geweeg word en die uitgewers sal uit hulle pad gaan om ’n boek die lig te laat sien as dit ’n teks is wat die Afrikaanse letterkunde kan vernuwe.
Daar is baie staaltjies van Petra Müller wat op en af gedans het in die gange van die ou Waalstraat-gebou, waar Tafelberg eers was, as sy ’n nuwe stem “ontdek” het.
En moenie sê daardie dae is verby nie. Die afgelope ruk het nuwe stemme soos Carina Stander (Die vloedbos sal weer vlieg) en Bernard Odendaal (Onbedoelde land) daar by Tafelberg verskyn.
Jy het seker al hulle bundels gekoop? Dan weet jy hulle is uitstekend, maar ek is bereid om jou die R10 in my agtersak te wed dat Tafelberg geld verloor het op daardie bundels.
’n Baie kort rukkie gelede is Willemien Brümmer se Die dag toe ek my hare losgemaak het by Human & Rousseau uitgegee. Dit is sweerlik al op jou rakkie? Ek hoop so, want Human & Rousseau gaan sukkel om hulle geld terug te kry op daardie bundel, al is dit hóé goed.
En het jy al Ronelda S Kamfer se Noudat slapende honde gekoop? Dis Kwela wat so pas geld gewaag het op daardie een.
Of wat van Lapa wat JM Gilfillan se Glas uitgegee het? Ek hoop jy het dit soveel geniet soos ek.
Lapa het egter soveel geld verloor op hulle kortverhale die afgelope ruk dat jy maar gaan bars om daar ’n bundel uit te gee in die volgende paar maande. Dink aan Emile Joubert, George Weideman en Harry Kalmer se tekste wat ook daar verskyn het. Nie een van daardie tekste was juis verkopers nie. Gaan jy nou vir Lapa kwaad wees as hulle ’n ruk lank weer geld stoot in daardie boeke wat die huur gaan betaal?
Protea het geld gewaag op Joan Hambidge se Kladboek. Gaan kyk ook na Protea se fantastiese digbundels (waaronder die van Cas Vos en Trienke Laurie).
Ek hoop jy sien my punt. Stander, Odendaal, Brümmer en Kamfer is nuwe stemme. Hambidge, Gilfillan, Joubert, Weideman, Kalmer, Vos en Laurie het geen bekendstelling nodig nie, maar hulle boeke sal ook nie noodwendig blitsverkopers word nie. (Hoewel Hambidge dalk ’n kans staan, hoor! Haar digbundel Dad het uitstekend verkoop. En Kladboek kan dalk net mense se tone kielie. Dit het myne gekielie!)
Verskeie uitgewers, eintlik almal, doen moeite om nou en dan te waag vir die saak.
Ek moet egter ook erken dat daar talle skrywers is wat met ongepubliseerde manuskripte sit. En, ja, dis deels omdat literêre tekste nie verkoop nie.
Kan ek vir almal hier op die blog ’n geheim verklap? Ek het ongeveer vier jaar gelede ’n bundel aan Tafelberg voorgelê en dis afgekeur. Dit was eina, hoor!
Tog het ek nie moed opgegee nie. Ek het weer begin. Ek het toe besluit om ’n lekkerleesboek te skryf. So is Byna Liefde gebore.
Een van die goed waaraan ek die hardste gewerk het, was om stories te skryf. Ek wou bitter graag hê dat Byna Liefde gelees sal word deur meer as net ’n paar akademici. Ek wou hê dat mense dit moet lees en vir ander vertel dat dit darem jollie lekker stóries is. (En kyk wat sê Michella Bella oor my stories! Ek is trots daarop!)
Ek het dus met die einste bemarkers, wat jy so lekker uittrap, gaan gesels. Ek het marknavorsing gedoen. Ek het, soos altyd, verskriklik baie gelees.
En, ek het weer probeer.
Dié keer is ek aanvaar, en dié keer is die terugvoer wat ons kry van die bemarkers en die verkopers positief.
En tog, weet jy hoeveel ek gaan maak as elke liewe boek wat ons gedruk het, uitverkoop? Nie eers R30 000 nie. En my uitgewer? Daardie wonderlike mense van Tafelberg sal nie veel meer as dit maak nie!
Die geheim van die uitgewerswese lê in getalle. Ek het die ander dag ’n Amerikaanse nisuitgewer by my aan huis gehad. En weet jy wat? Haar eerste drukke is meer as my “kommersiële” bundel s’n. (En is sy is ’n nisuitgewer!)
Hoe oorleef ons uitgewers dus? Skoolboeke en liefdesverhale. Jip. As ons uitgewers net kommersieel uitgegee het, sou ons bitter min letterkunde op ons rakke gehad het.
Dus? Ek dink dis nodig dat almal wat graag wil skryf, sal besef die beste manier om dalk, eendag uitgegee te word, is om ander se boeke te koop, en te lees.
Wouter, ek hoop dit help.
En ek hoop dat jy sal koop en lees én skryf. Onthou net, as jy skryf om ryk te word, moenie jou tyd met Afrikaanse letterkunde mors nie!
Ek skryf omdat dit lekker is, en omdat ek lief is vir lees.
Hartlik
Izak
Коментари