Wat bly oor? Die skalkse oog, die woorde wat boor aan die fasade van ons vlietende kultuur? Hoe kan mens jou ou gewoontes aan die lewe hou terwyl alles om jou geweek is in onsekerheid, agterdog en wanhoop?
Moedverloor se vlakte lyk heeltemal anders as wat ek altyd gedink het.
Dit help nie om die dinge te beskryf wat onbeskryflik bar is nie. Dit gaan eerder om alles wat deur die gebeurde van die afgelope weke in ’n grimmige reliëf geplaas is. Mens wil opgewonde raak oor die sake wat na aan jou hart lê, maar daar is geen vuur meer in jou gees nie, geen korreltjies humor te toor uit die ondermaanse ellende nie.
Ek blaai deur my versameling resensies van die afgelope klompie weke. Die dinge waaroor ek nie die moed gehad het om oor te skryf nie. Die opstande in KZN en Gauteng het ’n nuwe afsluitingspunt gebring vir baie ou maniere van dink en doen.
Neil Cochrane se bespreking van Joan Hambidge se Nomadiese sterre is geskryf voordat Jacob Zuma tronk toe is, maar dit verskyn die dag ná president Ramaphosa die mense wat die naweek KZN en Gauteng begin aftakel het, streng aangespreek het en Beeld die president op sy voorblad kon aanhaal: “Ons kom vir julle”.
Die Cochrane-resensie is al resensie op 12 Julie se Boekeblad in Beeld. Die res is aankondigings en ’n rubriek deur Jo Prins. Onder ander omstandighede sou ek Cochrane se skrywe geniet het, maar op 12 Julie het ek net gewonder of Hambidge veilig is daar onder in Kaapstad.
Ons het die afgelope dekade en ’n paar jaar só gewoond geraak aan die nuus oor hoe Zuma en sy party die land se morele kern weggekalwe het, dat ons leer saamleef het met die teneerdrukende implikasies. Ons het nog opgewonde geraak oor digkuns, nuwe romans, die oplewing in Afrikaanse rolprentkuns.
Maar toe die lootersfest op TV-nuusprogramme te siene is, en die vrybuitery hier in Gauteng ‘n nagmerrie-agtige werklikheid word, het ek onmiddelik die deprimerende gewaarwording gehad: Resensies maak nie nou saak nie. Nes stories oor die Springbokke se kapteinprobleem en Novak Djokovic agter op die sportblaaie. Wie gee nog om daarvoor?
’n Week later, en die land het al begin voel dat ’n groter krisis afgeweer is. Vier resensies op Beeld se Boekeblad, waarvan net een my end-uit laat lees het. Jean Meiring se reaksie op Carié Maas se heerlike Die miskruier en die maan. Die vorige dag het die hoofresensie op Rapport se boekeblaaie, oor ’n Engelse boek, my aan die lees gekry, maar nie die blommetjieskombers van boekaankondigings nie.
Hoe lank gaan hierdie gevoel voortduur? Dis seker net so moeilik om te voorspel as wat dit is om te weet of die land kan voortgaan met sepsis in sy politieke are.
Uiteindelik sal ons seker weer ’n soort ewewig vind. Die politici sal bly beloftes maak, oortuig dat ons nóú elke woord glo wat hulle sê, en môre sal vergeet het dat hulle dit gesê het. Die polisie sal wet en orde bly bewaar en ons almal sal snags gerus gaan slaap met die wete dat die security cluster top-mense is - die beste, mees bekwame mense op hul gebied.
En ekke hoop dat die boekekultuur sal herstel, soos dit telkemale het, en dat ek weer nimmereindigende plesier sal put uit boekresensies.
Comments