Daar is ’n nuwe drama in die KunsteKaap Teater wat regtig die moeite werd is om te gaan kyk. Taalmense, spits julle ore, oor so vier paragrawe vertel ek hoekom. Die stuk gaan oor taal, oor ’n erfplaas en ’n omie met ’n hoed.
Jip, dit klink soos ’n stuk wat my pa sou geniet het. En hy sóú, as hy nog geleef het, want die storie is net soveel my pa se storie as wat dit Ndlalifa, die hoofkarakter s’n is.
Ek was by die openingsaand van The Beneficiary deur Sinethemba Twani.
Die storie is skynbaar eenvoudig: Lifa is ’n moderne jong man wat alles gee vir sokker. Hy is goed en wen ’n beurs om ’n sokkeradministrateur te word. Die wêreld is aan sy voete. Maar dan daag sy oupa eendag uit die Oos-Kaap op en bied die familieplaas aan Lifa – aangesien hy die enigste manlike afstammeling is met wie die oupa nog kontak het.
Lifa is glad nie opgewonde nie. Om die waarheid te sê: Hy is die moer in. Sy pa het weggeloop toe hy baie klein was en sy ma, Nomfusi, het hom met baie harde werk groot gemaak. Intussen het hy, Lifa, ewe hard gewerk om vir hom self ’n plekkie in die sokkerson te bespreek. Hy het dus geen lus om nou alles te los en daar op ’n plaas te loop sit nie. Interessant genoeg is dit sy ma wat baie graag wil hê hy moet dit aanneem, want dit is háár manier om die plaas in die hande te kry.
Die ontknoping is voor die hand liggend, hoewel nie voorspelbaar nie. En, net soos jy dink jy weet wat gaan gebeur, dit móét mos, dan loop iets weer skeef.
The Beneficiary is in ’n sekere mate ’n outydse drama: Die stel is realisties (wanneer laas het julle ’n volledige voorkamer op die verhoog gesien?) en die vloei is lineêr. Die storie is selfs outyds – Ingrid Jonker se bedonderde pa het al hieroor geskryf. Veertig, selfs tagtig, jaar gelede sou hierdie presiese stuk in Afrikaans gewerk het. Lifa sou ’n wit knaap wees wat wou rugby speel, maar die plot sou presies dieselfde gewees het. En dís interessant.
Tog is daar wonderlike nuwe goed wat op die verhoog gebeur het.
Die oupa, gespeel deur Chris Gxalaba, praat uitsluitlik Xhosa. En dis diep-Xhosa, nie township-Xhosa nie. Nêrens is ’n onderskrif nie, jy luister gewoon na hom wat pragtige, beeldryke Xhosa praat. En nee, moenie dat dit jou afsit nie! Die stuk is so geskryf dat enige een te alle tye bewus is van wat gesê word. Dis omdat die res van die gesin se Xhosa so swak is, dat die diepte van die ou man se woorde te alle tye oor en weer verduidelik word – ook aan die karakters. By ’n hele aantal geleenthede sê Lifa aan sy ma: “I don’t understand.” En dan is dit dikwels dat hy die woorde verstaan, maar nie die ryk beelde van die plattelandse Xhosa nie.
Ek was mal hieroor. Vir my was dit ’n fantastiese stap in die bevryding van ons inheemse tale. As ons dít méér kan regkry, dan is daar hoop vir inheemse tale in Suid-Afrika – en ek sluit Afrikaans hierby in. (Praat van Afrikaans, die akteur, Chris Gxalaba, is ook vlot in Afrikaans én Engels. Wat ’n talent!)
Al die akteurs het oortuig. Dit was ’n plesier om hulle dop te hou en om my te kon inleef in die storie.
Dis moeilik om meer te sê sonder om simpel te klink. Ek dink net dis oor en oor die moeite werd.
The Beneficiary is maklike teater. Dis werklik snaaks by tye, maar het genoeg pitkos om enige iemand te laat dink. Gaan sien dit. Deur die ontwikkeling van Xhosateater te ondersteun, dra jy direk by tot die oorlewing van Afrikaans. Dit was heerlik om in ’n oorwegend Xhosasprekende gehoor te sit, en te hóór hoe hulle dit geniet. Wanneer ons as Suid-Afrikaners mekaar se ooreenkomste gaan begin raaksien, steel ons die toekoms terug uit Julius Malema se hande uit – ook die toekoms van al ons inheemse tale.
Die volgende stuk, wat op 10 November open, is toevallig ’n Afrikaanse stuk – Hol deur Nicola Hanekom. (Dit speel op ’n trapmeul af.)
The Beneficiary is nog op die planke ot 5 November. Ek beveel dit baie sterk aan. Dit speel af in die KunsteKaap Teater en is deel van hulle program om nuwe talent te kweek.
Ondersteun ons plaaslike talent. Jy gaan vir 80 minute lank baie pret hê.
Die rolverdeling is soos volg:
Gcinikhay, die oupa: Chris Gxalaba (wat ’n talent)
Nomfusi, die ma: Zoliswa Kawe (pragtig en baie oortuigend, hoewel ámper te jonk vir die rol)
Ndlalifa, die seun wat die keuse moet maak: Thabang Sidloyi (’n jong man met ’n blink toekoms, sy gesigsuitdrukkings is wonderlik gepas)
Cheppies, Lifa se vriend: Melikhaya Tana (hier is ’n gebore komediant)
Ruby, Lifa se meisie: Nobuhle Kehtelo (beeldskoon, met ’n stem wat manlike organe roer)
Die regisseur was Fatima Dike
Stelontwerp is gedoen deur Dicky Longhurst
Die beligting is ontwerp deur Alfred Rietman
Comments