Hiermee ’n klein huldeblyk aan ’n vrou wat vir my baie beteken het.
Miep Nienaber Van der Bom Luitingh is op 7 Januarie 1914 gebore as Willemina Luitingh, die dogter van ’n makelaar op die Amsterdamse beurs.
Sy trou in haar laat twintigs met Jan van der Bom.
Dit was oorlogtyd (die Tweede Wêreldoorlog) en petrol was onverkrygbaar, vandaar die gasbottels op die dak van die troukar.
Uit hierdie huwelik is my ma, Marianne, gebore. My ma was egter maar drie maande oud toe haar pa, Jan, oorlede is.
Miep, met die hulp van Jan se broers (Henk en Free) het die klein Marianne grootgemaak en Miep het intussen haar studies voortgesit aan die Universiteit van Amsterdam. Sy behaal haar dokterandes en word ’n assistent van die vermaarde Antonie Donkersloot. (Lees meer hier oor hom.)
Toe verander dinge. Stoffel Nienaber, getroud met Sheila Cussons, arriveer in Nederland om sy D te doen. Stoffel se pa word siek en hy vetrek, per skip, terug na Suid-Afrika. Hy vra toe ewe vir NP van Wyk Louw om mooi na Sheila te kyk, iets wat Wyk skynbaar ernstig opgeneem het. (Vir ’n mooi sagte blik op hierdie verhaal, kan julle gerus JC Steyn se Van Wyk Louw, 'n Lewensverhaal lees.)
Terug in Nederland, besef Stoffel dat Sheila wil skei – wat toe uiteindelik ook gebeur het.
Stoffel en Miep word toe vriende en uiteindelik vra Stoffel vir Miep om saam met hom na Suid-Afrika te kom.
Stoffel en Miep is in die Grootte Kerk in Kaapstad getroud, en DJ Opperman het Miep weggegee. My ma, Marianne, wat toe sewe jaar oud was, was die strooimeisie.
Die nuwe gesin gaan woon in Pietermaritzburg. Dié foto van my ma en my ouma is by Amanzimtoti geneem waar hulle gaan vakansie hou het.
Drie jaar ná die huwelik is nog ’n dogter, Christina, gebore.
My ma is uiteindelik getroud met Johan de Vries (links). Op die foto soen my ouma my ma terwyl Christina toekyk.
Ons is drie kinders. My eerste sussie is ook Willemina gedoop. Sy en my ouma het ’n baie besondere band gehad. Hier staan ouma Miep met haar kleindogter en naamgenoot.
Hier in Afrika het Miep en Stoffel hulle ingegrawe in die akademie. Miep het heelwat geskryf. Hier is ’n klompie van haar boeke. Sy was baie goed bevriend met Elisabeth Eybers en hulle twee het tot die einde gereeld vir mekaar geskryf. Dié versameling briewe, wat behoue gebly het, is aan Wits geskenk.
Ek was baie lief vir my oupa en ouma. Die liefde vir letterkunde en literêre teorie kom van hulle af en my neiging om vir almal te wil klasgee, kom beide van hulle en van my ma.
Hier is die laaste keer dat ons sibbe saam was – en my ouma was nog daar. Heel links is my kleinsus, Marianne. Voor is ouma Miep en agter is ek. Regs van my ouma is Willemien, die naamgenoot en Dominique Orth, met wie sy later getroud is. Agter Dominique is ’n kêrel wat op daardie stadium na my kleinsus gevry het. (Ek kan nie sy naam onthou nie.)
My ouma was agt en tagtig toe sy oorlede is.
Glo dit as julle wil. Ek kan vanaand ook nie my Ouma se sterfdatum onthou nie. Vir haar onthou ek wel.
(Dankie aan Christina en my ma vir die hulp hiermee,)
Opmerkingen