Die doedelsakke, tromme en Hooglanders wat in geruite rokkies trippelswaai, het ontbreek. In meer as een opsig het die gedenkdiens vir kollega Kootjie Geldenhuys (84) vanoggend in die NGK Welgelegen, Parow, tog wel aan ‘n Skotse “gathering of the clans” herinner.
Vir eers was verskeie Geldenhuys-“clans” verteenwoordig, die eie familiestam tot in die vierde geslag, die Naspers-stam, die bure-en-vriendestam uit Port Elizabeth, Bloemfontein en Onrus (sy vakansieplek), die Welgemoedstam (vorige gemeente), die Welgelegenstam (huidige gemeente), die La Provencestam (woonplek) – noem maar op.
Uit die Naspers-“stam” het vir hierdie “gathering of clans” rondom die afsterwe van ‘n geliefde kollega verskeie vertakkings opgedaag: topbestuur, middelbestuur, syfermense, redaksionele kollegas, advertensiemense …. Minstens 25 wat in ‘n stadium in Kootjie se tyd by lessenare in die Nasperssentrum aan die Heerengracht gesit het, kon ek onder die 400-plus begrafnisgangers op my vingers aftel.
“Die grootste begrafnis wat ek nog bygewoon het,” het Ton Vosloo agterna opgemerk. Seker ook die verteenwoordigendste van alle dissplines in die ou Pers, soos ons generasie hom nog geken het, wil ek waag om by te voeg. ‘n Treffende huldeblyk in sig self.
Ook uit ander take van Kootjie se vol lewe was substrata teenwoordig: van die vorige omgewings waar hy hy opeenvolgende koerantbestuurder van Oosterlig en Die Volksblad was, tot sy eie bestuurspan by Die Burger waar hy tot hoofbestuurder gevorder het, en dan ‘n haldosdyn of meer van die destydse 18de verdieping – die bestuurshart van die ou Pers. Verskeie reeds 70-plussers, sommige al ook oor 75.
‘n Verdere Skotse element kom uit die intieme gesinskring. Marietjie, oudste dogter, en haar gesin woon in Skotland “Ons sal nooit vir Oupa of die Skotse keppies vergeet nie,” het kleinkind Colin in sy huldeblykie gesê, met verwysing na die pette uit daardie geweste wat sy oupa graag op sy kop gesit het. Hy sweer die nederige Kootjie was ietwat spoggerig met so ‘n pet op, het ds. Kobus van der Westhuizen, self ‘n La Provencer, van die kansel geskerts.
En ja, La Provence was ook in meer as een vertakking in die kerk teenwoordig – die opvallendste Kootjie se mede-rolbalspelers in hul wit gewade. Die rolbalgogga het Kootjie in die herfs van sy lewe behoorlik gebyt, nadat hy in sy Onrusdae as entoesiastiese visterman bekend was. Hy was ook Wildtuinman – die Vyf Grotes het nie sonder rede op die eerste blad van die program van die gedenkdiens gepryk nie. En natuurlik familieman .. miskien tog wel familieman by uitstek. Een van die laaste groot familiesaamtrekke was inderdaad in die Krugerpark – twee liefdes ineengevleg.
Marianna, ‘n kleinkind uit die Adri-tak, verklap in haar huldeblyk juis die geliefde oupa se opregte opgewondenheid voor elke so ‘n geleentheid. “Soveel so dat Oupa nie kon slaap die vorige aand nie en dat Ouma dan ‘n kalmeerpilletjie onder die tong moet gee as die opwinding te veel raak.”
Alta, Kootjie se vrou vir 60 jaar, beklemtoon in haar huldeblyk sy onberispelike voorbeeld en lewenswandel, asook toewyding aan Christus. Ander eienskappe wat deur die kinders en kleinkinders uitgelig word, sluit in sy oorvloedige en opregte liefde, vreugde en ondersteuning, die inspirasie wat van hom uitgegaan het, sy goedhartigheid en vrygewigheid.
Dr. Michiel Strauss se teksvers uit Kolossense 3 het treffend hierby aangesluit: “Julle is die uitverkore volk van God wat hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.” Dit was Kootjie alles.
Hy was as kollega ook minsaam, regverdig, voorbeeldig en standvastig, soos ek Donderdag aan Die Burger gesêê het. “Sy reg was sy reg en sy verkeerd was sy verkeerd.”
Gooi al hierdie dinge bymekaar, skommel deeglik en daar het jy die resep vir die wye eerbied wat in soveel sfere vir hierdie man van die hoogste stoffasie bestaan het. Hy was “‘n baie ordentlke mens met integriteit,” soos Ton Vosloo in dieselfde Burgerberig aangehaal is.
Kootjie, ons salueer jou – ons Mnr. Integriteit.
Kommentare