UIt elke bosvakansie kom iets nuut, soos uit ons donker vastelandjie, Afrika. “Semper aliquid novi” was ook oor Nuwejaar vir Sabiepark ‘n toepaslike spreuk.
Nooit tevore het ek ‘n nuwe jaar in ‘n swembad ingelui nie. Wel, hier was ek, Tokkie en die 8-jarige tweeling Jacob en Thomas vrolik plassende en proesende in die bosbadjie terwyl die wekker skril aankondig dat ons 2013 betree.
Die jaarwending in die water was my vrou se idee. Dat ons van die een jaar tot die ander onder die Bosveldsterre sou swem, was vir haar ‘n begeesterende gedagte. Vir daardie verhewe doel het ons met ons swembroeke aan gaan slaap. ‘n Halfuur voor die historiese tewaterganery het die wekker die eerste keer gelui.
Tokkie het my en die tweeling met min seremonie uit die lakens gepluk vir ‘n middernagfees soos min. Op die trollie was o.m. sjokoladekoek, koesisters, vrugtepasteitjies, lekkers en skyfies. Op die koek was feestelike “sterretjies” – “sparkles”, man, “sparkles”. Oupa was grotendeels ‘n toeskouer en deelnemer. Al verpligting, so plus-minus, was om op ‘n gegewe oomblik uit die water te spring om die middernag-gelui stop te sit.
Eers om 01:00 op 1 Januarie 2013 is ons terug kooi toe – nadat die seuns eers weer moes tande borsel, soos hul mamma en pappa ná elke ete streng vereis. My vrou tref altyd voorsorg om potensiële dispute oor sulke vername sake diplomaties te vermy.
‘n Gawe Tarlehoet-nuwigheid was natuurlik ook die avonture met die bespiedkamera, waarvan in die blog van 20 Januarie vertel is. Maar die nuwe speelding was nie al nie.
Nuwe kamera, trollie vol lekkernye, turducken en manne by die naambord.
Aan die koskant was nie net die middernagfees ongewoon nie. Die uwe het ‘n aand of twee later die eerste keer ‘n sogenaamde “turducken” in die gehawende Weber gaargemaak. Die stuk saamgeflansde pluimvee was brosbruin en sappig. Die kinders het ook die lekkernytjie “machonchans” (repies skaaprib met ‘n sterk kwota geurige speserye) op die kole ontdek. Kom uit Boet en Jan se Plaston-slaghuis op Witrivier. Aan te beveel – ook hul tjops, wors, skilpadjies, ens. Hulle bring dit boonop met ‘n koeltrok tot by Sabiepark se hek.
By Skukza se herderspaar, Carl en Sarah Louwrens, het ons die eerste keer GEEL waatlemoen geëet. Smaak nes die rooie. Lida Pressly het uit Skukuza vir ons die heerlikste tuisgemaakte gemmerbier gebring, met baie rosyntjies. Laasgenoemde het veral Thomas so geval dat gemmerbier vir brekfis dae lank sy begeerte was.
Op TvD se Blackberry het ons ons die eerste keer vir “Kruger sightings” laat registreer. Elke paar minute pieng die foontjie. Dan is leeus gewaar by Orpen of ‘n luiperd by Krokodilbrig. “Hoe ver is dit?” was telkens die seuntjies se vraag. Die ontnugterende antwoorde kon nie anders as teleurstelling wek nie.
Dis ook my bedenking wat ek oor die sisteem het. Min van die hoop mededelings oor waarnemings is werklik vir ‘n mens relevant as jy, uit die aard van die saak, tot ‘n kleinerige stuk Wildtuin-aarde beperk is. Tog laat al die nuus van groot oomblikke jou deel voel van die Wildtuin-dinamiek. Jy sien ook op die skermpie mooi foto’tjies wat die mond laat water.
Bedink die algemene plesier toe “ons luiperd” (in ‘n boom naby die Krugherhek) ook op die skerm uitslaan.
Iets nuut waaroor hierie ou redelik suur is, is die onvermydelike nuwe yskas in die kombuis. Die oue wat ons in 1997 saam met die huis gekry het, het nare nukke begin kry. Dit het ons eenvoudig uitgerook en uitgestink. Die nuwe is dringend uit Witrivier ontbied. Sommer ‘n telefoniese transaksie, want die nood was hoog. Maar, eish, ‘n nuwe gas-yskas vat ‘n hap uit ‘n man se begroting, dis nou maar wors.
Nog ietwat suurder is ek oor die Honda se lugversorger wat kapoet geraak het. Maar dit bring my by die “panic mechanic”. Dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Comentarios