Saamkuier in September 2007: vyf Volksblad-hoofredaksielede van die 80’s. Van links is Sarel Venter, HvD, Herman le Roux, Piet Theron en Paul Marais.
Here , as ek regtig
vir enigiets, maar
enigiets, mag bid –
Here, kan ek maar
vir ewig by my
kampvuurtjie bly sit?
‘n Vuurtjie is ‘n sielsgenoot vir elke seisoen. Om langbeen by ‘n vuurtjie te sit en kuier (veral as dit ‘n stamboekvuur van hardekool kan wees), maak daardie kuier sommer baie spesiaal. ‘n Vuur is mos ‘n plek waar vriendskappe veredel.
Wat ‘n vooreg om deur die jare in Sabiepark saam met soveel vriende om ‘n vuurtjie te kon sit. Ook vir die wintervakansie wat Vrydag begin, stapel die inskrywings in die dagboek vinnig op: familie, vriende – onder wie verskeie studentemaats van die 60’s – oud-kollegas by Die Volksblad, mede-Sabieparkers en andere wat by Tarlehoet kom vertoef of sommer net ‘n vleisie op die kole kom gooi onder sterre wat in die woorde van wyle Pieter Pieterse “elke nag nader aan die aarde lyk as wat jy kan onthou”
Een van die Bosveldvure wat in die Van Deventer-annale uitstaan, was op 11 Augustus 2001 vir ‘n Melkbosspan van 24 wat in ‘n konvooi uit die Kaap opgeruk het Wildtuin toe. Daardie braai het ingesluit tamaaie vure by die voor- en agterlapas, ysterpotte vol pap en “sheba” (‘n tradisionele tamatiesmoor met baie uie) – natuurlik ook die tradisionele tjops en wors vir Afrika.
‘n Reünie in September 2007 van die Volksblad-hoofredaksie van die jare 80 was eweneens ‘n bos-okkasie om oor huis toe te skryf. Paul Marais en Cora van Hartenbos, Herman le Roux en Rina van Randburg, Piet Theron en Petro van Bloemfontein, en Sarel Venter en Liesbeth van Bloemfontein kon ‘n naweek die kollegiale band in die bos kom afstof. Die “onthou-jy-nog’s” kon net nie opdroog nie.
In ons gasteboek met ‘n indrukwekkende maanhaar op die harde-buiteblad is reeds meer as 150 inskrywings. Dat soveel oud-kollegas, Tukkiemaats van 50 jaar gelede en matriekmaats van 1957 aan die Hoër Volkskool, Potchefstroom, al saam om Sabieparkvure gekuier het, ag ek as ‘n buitengewone voorreg – dis wonderlik as vriendskappe só hou. Oud-kollegas en studentemaats staan van daardie garde getalsgewys bo-aan die besoekerslys met 12 elk. Matriekmaats staan op tien.
Van die vriende kom weer en weer, soos Herman en Rina, wat ook in Maart 2008 hier was om tien goue jare te gedenk – hul tiende besoek en Tokkie se verjaardag. Saam was ons weer in Tarlehoet se swembadjie met dieselfde blou enemmel-koffiebekers en wynglasies, alles presies soos ‘n dekade gelede – buiten, natuurlik, vir die toename in grys hare en allerlei ander tekens aan die onderskeie lywe. In Julie sal ons nie die swembadjie aan die suidekant van die huis aandurf nie, maar dan kuier ons weer saam – hul twaalfde of dertiende besoek.
Manie Steyn, studentemaat van 50 jaar, kom ook weer. Op ‘n vorige besoek, in Julie 2010, was die tjops en wors vir die afskeidsbraai op die soliede ystermeneer wat tien jaar gelede sy geskenk aan Tarlehoet was. Die oggend toe Manie ry, swiep ‘n visarend laag en roep sy hart uit – ‘n stylvolle Sabieparkse tot siens!
Manie en ander studentemaats, Cas en Nella Jacobs, Pierre en Esther le Roux, Piet en Moraig Henning en Benito en Lina Niemann gaan middel Julie vir drie dae saam Balule toe. Die Jacobse en Le Roux’s doen ook eers Sabiepark aan. Hulle is gewaardeerde Sabiepark-veterane.
In die dae toe Dawie Strydom van Outeniekwastrand nog “God sy met u tot ons weer ontmoet” in die helder volmaan, by die laaste hardekool-vlammetjies, eerbiediglik uit sy mondfluitjie kon laat opklink, het sulke uurtjies om ons vuurtjies ewigheidsdimensie gekry.
In daardie gewyde oomblikke het die gedagtes gedwaal na Sabiepark-vuurgenote wie se name intussen op grafstene uitgekerf is: Ouma Marietjie van Wyk, Ben Smith, Alf Ries, Magriet Jonker, Frik Dreyer, Sannie Steyn, Piet en Verity Möhr, Evert Smith, Sina Roux, Anthonie en Cilia Roux, Wynand en Daleen Mouton, Barnie en Swanie Human, Frikkie Jordaan, Fickie en André Visagie, Piet en Esta Gouws, die jong Frederick Nel …
Dawie en Annatjie het Sabiepark 27 jaar lank besoek. Hierdie vakansie sal die Strydoms se plek die tweede jaar na mekaar leeg wees. My ou vriend se gesondheid het geknak. Helaas.
Dat ek saam met geeneen van hierdie mense ooit weer langs ‘n Sabieparkse vuurtjie sal sit nie, is ’n vreemde, amper onwerklike wete. Maar so knaag die tande van die tyd …
Comments