Die sluise van kritiek is weer teen koerante oop oor hul hantering van die Oscar Pistorius-sage. Sulke aanslae is niks nuut nie. In my tyd het ons ewe kwaai deurgeloop oor ons hantering van die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd. Ons sou dan “sensasie” daarvan maak.
Sensasie maak! Sonder dat ons ‘n vinger sou verroer, was dit klaar ‘n reuse-sensasie. Die grootste storie van my hele koerantloopbaan. Die Oscar Pistorius is ook geweldig. “Gigantic” noem ‘n Amerikaanse vriend dit. Dan voeg hy by: “I imagine it will continue full speed into the foreseeable future.”
Die ganse wêreld word meegesleur deur hierdie ontvouende Griekse tragedie. Miljoene woorde in die pers en oor die elektroniese media word elke dag oor die aardbol opgeslurp. As lewenslange joernalis het ek min twyfel dat dit die grootste moordstorie van die nuwe millennium is. Loshande. Dan kom uit talle oorde maar weer die ou-ou verwyt: “Nou oordryf die koerante darem, te erg!”
‘n Goeie vriend pak my gister, eergister oor die die “verskriklike” media. My antwoord: as jy ‘n koerant wil kwalik neem omdat hy nuus publiseer, moet jy ‘n messelaar kwalik neem omdat hy stene op mekaar sit. Of ‘n atleet omdat hy hardloop. Hy bly ‘n rukkie stil. Toe: “Dis seker waar.”
Gister was in Die Burger ‘n brief van ene Susan van Zyl van hier iewers in die Kaap oor koerante wat dan goedsmoeds onwaarhede sou publiseer sonder om hul inligting by “onafhanklike” bronne te kontroleer. My antwoord verskyn vanoggend in Die Burger. Hier is dit volledig:
Twee mense woon ‘n leeftyd onder een dak. Dieselfde stel feite sien hulle meermale nie deur dieselfde bril nie. Huishoudelike verskille oor vertolkings kan heftig raak. Drie ooggetuies sien ‘n motorongeluk by ‘n kruising gebeur. Die resultaat: drie weergawes wat op kernpunte wyd uiteenloop.
Inge Lotz is op 16 Maart 2005 vermoor. Ná sewe jaar (amper agt – HvD) al heers nog ‘n warboel van vrae, teorieë, bewerings en weersprekings. Oor bloedmin van die saak bestaan absolute sekerheid. Vra maar vir “Piet Byl” wat intensief daarin grawe.
Susan van Zyl se versugting oor koerante en die waarheid (DB, 18 Februarie) is verstaanbaar en in beginsel natuurlik reg. Ongelukkig leef ons nie in ‘n ideale wêreld nie. Alle is helaas nie in wit en swart glashelder gedefiniëer nie. En grys kom in 50 of meer skakerings, word beweer.
Ons media vaar goed, meen ek, om in die opspraakwekkende Oscar Pistorius-sage hul lesers en kykers oor kritieke elemente ingelig te hou. Hulle doen hul plig teenoor die gemeenskap. Ten minste is ‘n bose spul uit die lug gegrypte bespiegelinge op die sosiale media en elders al deeglik die nek ingeslaan.
Wat sou Susan van Zyl se advies aan die media wees in ‘n geval soos Inge Lotz (en Oscar Pretorius)? Moet hulle in alle tale bly swyg, selfs sewe jaar bly swyg, omdat soveel aspekte nie by enige “onafhanklike bron of twee” bo ALLE twyfel bevestig kan word nie? Hoe kom ons dan ooit by die volle waarheid uit?
Dis my kernvraag: wat wil die mense hê: Wil hulle liewer oningelig, met oogklappe aan, lewe, salig ongesteurd deur wat rondom hulle gebeur, of wil hulle weet wat om hulle aangaan, al is die boodskappers dan nie altyd volmaak nie?
Comments