top of page
Uitmelkbos

MEEGEVOEL VAN MESHACK


Meshack, Johan en Novo, Johan se staffie, in die oprit van Genl. Van Schoorstraat 1.


Seker die laaste boodskap van meegevoel met Ouma Marietjie van Wyk se dood het vanoggend per SMS opgedaag.  Dit kom van Meshack, ons tuinman in Genl. Van Schoorstraat,Bloemfontein, tot ons verhuising Kaap toe aan die begin van die 90’s. 

Meshack was geen gewone tuinman nie – eerder ‘n vriend wat in die tuin gewerk het.  Hy is, by al sy ander kwaliteite van menswees, met ‘n vrolike humorsin geseën,  nogal nie ‘n algemene kenmerk van tuinmanne nie. Ouma sou byvoorbeeld met haar loopraam in die motorpad af kruie. Meshack spuit dan met die tuinslang ‘n paar water-esse voor haar voete. “Wat maak jy nou?” “Ek bring net ‘n bietjie Ouma se spoed,” kom die antwoord blitsvinnig.

Hy was lief om mense byname te gee. Vir Ouma het hy Winnie Mandela genoem.  Sy het protesteer vir ‘n vale.

Vanoggend laat weet hy: “Tokkie ek is baie hartseer oor ouma … Julle moet sterk wees. Ek verlang Johan en Marisa.” Laasgenoemde is ons kinders met wie Meshack ‘n hartlike verhouding gehad het. 

Wat dalk sal  opval, is sy  gemoedelike aanspreekvorm: sommer net Tokkie.  Sy was altyd  “ou Tokkie”. Kenmerkend van hul onderlinge kommunikasie was dat hulle mekaar geroep het met ‘n uitgerekte: “Joe-hoe.” Amper 14 jaar gelede het ons Meshack gaan soek by die Sentrale Universiteit van Tegnologie waar hy later gaan werk het. Ons is na die Loubsersaal verwys, wat dolleeg was. Toe roep Tokkie: “Joe-hoeee!” Iewers van agter die verhoog kom die antwoord: “Joe-hoeee!”

Dit was ‘n bly weersiens daar in die Loubsersaal.  Selfs ek – deur Meshack om klaarblyklike redes destyds Mike Schutte gedoop – was half aangedanerig.   

Goeie ou Meshack. Oor hom en al sy dinge het ek in my blog van 21 Augustus 2011 uitvoerig vertel.  Maar ek het gedink die SMS-ie van vanoggend is vermeldenswaardig.  Gee ‘n mens hoop as ‘n verhouding tussen ‘n werkgewer en ‘n tuinman 20 jaar so gesond behoue bly.

Naskrif: Een van die oproepe wat ná Ouma se dood ontvang is, was van Helena Sullivan van Pretoria. Sy was sowat ‘n halfeeu gelede in Ouma se Sondagskoolklassie op Bultfontein.  Ook nogal merkwaardig, reken ek.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Komentarze


bottom of page