top of page
Uitmelkbos

Mamma, waar kom Pendoring vandaan?


Die 90’s was nog jonk en Suid-Afrika aan die vooraand van ‘n splinternuwe bestel toe mense met hul mes in vir Afrikaans ‘n kans sien om die dolk in te dryf.

“Afrikaans is history,” het ‘n reklamebaas een aand ná ‘n paar Skotse watertjies in die Jakkalsbessiekamp in die Krugerwildtuin kwytgeraak. Dit was nogal op ‘n uitstappie wat deur Nasionale Koerante gereël is om adverteerders se guns te probeer wen.

Miskien minder kru, maar in dieselfde trant, was kommentare wat uit verskeie ander oorde gehoor is. Die Afrikaanse koerant – so moes ons tot vervelens hoor – is so plus-minus op sy laaste bene.

Te midde van al die doemprofesieë – en die werklike impak van hierdie vyandige gees op ons werklike advertensie-inkomste – was dalk die grootste uitdaging van daardie era om teen sulke negatiwiteit terug te baklei.

Die waarheid is dat die Afrikaanse koerant op sirkulasiegebied in daardie stadium so sterk was soos nog nooit. Met die jaarlikse onafhanklike Amps-opname om leserskap te bepaal, het die drie dagblaaie – Burger, Beeld en Volksblad – die eerste keer deur die miljoenkerf gebreek. Geen geleentheid is laat glip om ons lewenskragtige leserskappe wyd en syd te verkondig nie.

By ‘n Beeld-advertensiegeleentheid in Johannesburg het ek – juis oor daardie nuut verworwe miljoenerstatus – uitdagend verklaar: “Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!”

In die bedryfspers het toe die spotprentjie hierbo verskyn wat nou nog teen my studeerkamermuur hang. Ek sit, koerant in die een hand en telefoon in die ander, en blaf in die praatstuk: “I wish to report a mistake. The Afrikaans press IS NOT DEAD!”

Toe ek lees die Pendoringprys vir uitnemende inheemse reklame is nou 21 jaar oud het my oë dadelik na daardie spotprentjie gedwaal. Tussen die prentjie uit die hand van ‘n onbekende tekenaar en Pendoring is ‘n direkte konneksie.

Pendoring was ‘n poging om die daad by die woord te voeg: om nie net te praat oor die belangrikheid van die Afrikaanse mark en die Afrikaanse koerant nie, maar om iets te doen om die advertensiewese ‘n groter bewustheid van Afrikaans te gee.

Ons Koerante-ouens het gedink ‘n groot nuwe prys vir briljante Afrikaanse reklame is ‘n slim plan. Oor hoe slim dit was, sal ek my nie uitspreek nie. Dat dit 21 jaar oud geword het en in sy nuwe vorm – as ‘n prys vir reklame in alle inheemse tale – van krag tot krag gaan, getuig seker daarvan dat dit nie ‘n flou perd is wat ons opgesaal het nie.

Die ontstaansgeskiedenis van Pendoring is nie wyd bekend nie. Ek het dit opgeteken. Dit is op Netwerk24 te lees by die volgende skakel:

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page