Maanvrug is Annelise, onse medeblogger se eerste. Ek het dit pas klaargelees. En? Wel. Ek is kiertsregop. Stokstyf. Hartkloppend. Ensovoorts.
Ek gaan beslis Weerloos ook bestel!
Sjoe, onse Annelise kan die krane oopdraai. Maskas.
Ek wil dit duidelik stel dat mense wat skaam is vir seks, moet wegbly van hierdie teks. Maanvrug laat Byna Liefde soos ’n Sondagskoolhandleiding klink. Maar, as jy nie bang is vir ’n bietjie “of the old in-out trick” nie, wel ... (En as jy dié aanhaling ken, is jy al deur The Clockwork Orange ...) Daar is niks wat slap bly aan ’n mens as jy Maanvug lees nie! Lees die teks hardop voor aan jou geliefde. Jy sal lus word. As jou partner boonop ook lus raak ... Vergeet Viagra. Roep die Maangodin!
Annelise skop ’n stofwolk op – groot dele van die boek gaan kuier lekker in die pornografiese leefwêreld. (Ek sal in ’n ander blog oor die dun onderskeid tussen erotiek en pornografie praat ...)
Ek wil net noem dat dit ’n mite is dat vroue minder belangstel in pornografie as mans. Van my baie soet vriendinne het al erken dat eksplisiete tonele hulle baie aanstaan.
Wat Annelise doen, is om ’n vrou se fanatasiewêreld aan die leser oop te maak. Die verteller is gefrustreerd, het kuis grootgeword en was ’n maagd tot op haar troudag. Sy en haar man is gelukkig saam, maar ai. Iets kort.
Maanvrug gaan oor die twee parallelle prosesse in dié vrou se kop. Aan die een kant fantaseer sy. Aan die ander kant begin sy en haar man praat oor die moontlikheid van ’n oper verhouding, die tipe verhouding waar seks nie bloot beperk is tot die twee getroudes se lewens nie.
As julle Annemari Coetser se Oop Kaarte se lees, dan sal julle sien hoe ’n paartjie besluit het dis okay as daar ander mense in die huwelik is. Oop Kaarte was dan ook die eerste liefdesroman wat poli-amorie betrek (na my wete). Met Oop Kaarte was daar egter nooit enige poging om te verduidelik hoekom die twee mense besluit het om “oop” te maak nie.
In Maanvrug is die gesprekke oor dié onderwerp, en die stremming wat ander in die huwelik bring, baie beter beskryf. Die twee leef en praat uiteindelik oor al die probleme wat ’n poli-verhouding kan te weeg bring. (Interessant genoeg vind ek té min van die mooi oor hierdie soort verhouding in die teks.)
Ek dink vele medebloggers sal aanklank vind by Maanvrug. Ons het in so ’n benepe klein samelewing grootgeword dat “rondslaap” as ’n sonde gesien is toe ons op skool was. Maanvrug praat met ons, al die onse in dié pond wat weet hoe baie nonsens ons moes opeet in die verlede.
Ek het Maanvrug al raakgeloop in goeie boekwinkels, maar julle kan dit ook direk bestel. Kliek hier.
Ek sou graag wou hoor wat ander dink van “oop”
verhoudings, poli-verhoudings, en, as julle dit al gelees het, Annelise se
boeke.
Comments