Vin Diesel en sy vangs – Sabiepark.
Die bos het sy eie ikone. Die massiewe luiperdmannetjie Mbavala (in die omgang beter bekend as Vin Diesel) is dit ruim ‘n dekade lank. In die Krugerhek-kontrei in die Sabi-Sand-wildtuin en in Sabiepark is hy die ongekroonde heer en meester.
Mense word deur hom betower. Vele se grootste wildtuindroom is om die manjifieke dier met sy nek soos ‘n trekos – te sien of op kamera te kry. Op sy eie Facebook-blad en die Sabieparkblad is sy foto altyd ‘n treffer: des te meer met sy prooi ná ‘n vangs; selfs ook net wanneer ‘n strategiese nagkamera hom betrap waar hy in die donker tussen die grasdakhuise ronddwaal. Elke plasing lok ‘n string kommentare van bewondering uit.
Sabiepark- bewonderaars ken die kêrel se stamboek. Ons weet dat hy op 24 Januarie 2004 gebore is. Ons weet dat hy oor die 90 kg weeg. Ons word selfs oor sy romantiese avonture op die hoogte gehou. Met grenslose respek word onder mekaar gefluister: weet jy dat hy ‘n allemintige nege wyfies in sy domein gelukkig hou!
Van die tweede helfte van 2017 merk Sabieparkers hom al hoe gereelder in hul park op. In Julie vang hy ‘n ander Sabiepark-ikoon, die vlakvarkbeer Brood, bekend om sy swierige trofeetande, naby die piekniekplek. Sabieparkers vergewe hul “gunsteling-troeteldier” die “ligte mistykie”.
Die laaste drie maande gee hy skynbaar nooit meer pad nie. Dit is of Sabiepark vir hom – soos vir so baie van die menslike inwoners van oral – ‘n bekoring inhou as ‘n ideale stukkie boswêreld om in ou bene te kom maak.
Die waarnemings en die foto’s van Vin Diesel neem elke dag toe. Sabieparkers wat nog net van die manjifieke Vin Diesel gehoor het, ry spesiaal Sabiepark toe in die hoop om hom raak te loop, en laat jubelend weet as hulle dit gelukkig tref. Hul foto’s wys toenemend dat die eens forse gestalte, veral oor die ingesonke blaaie, helaas nie meer is wat dit was nie. Littekens aan sy gesig verklap dat hy in ‘n bloedige geveg was – dalk met ‘n jonger mannetjie wat sy koninkryk wil opeis.
Die amperse heldeverering vir Vin Diesel duur voort. Vir sommige, veral ouers van klein kinders, word sy aftakeling ook ‘n bron van kommer. Niemand kan vergeet nie hoe Kotie de Beer in 2001 en Binkie Nobela in 2003 in die “veilige” Skukuza-personeeldorp desperate, siek ou luiperds se sagte teikens geword het.
Heer en meester.
Sabiepark hou die agteruitgang in Vin Diesel se toestand geruime tyd fyn dop. Hulle kom agter hy boer graag op huise se stoepe in die knusser omgewing van die kantoor en swembad, en sukkel om ietsie te ete plat te trek. Sy snelle fisieke agteruitgang is ontstellend.
In ooreenstemmning met Sabiepark se beleid oor diere wat vir mense ‘n gevaar inhou, word die Mpumlanga-Parkeraad se hulp ingeroep. ‘n Vanghok word op 24 November deur laasgenoemde aan die onderent van Maroelaan naby die rivier geplaas. Op 27 November word Vin Diesel gevang en na Nelspruit gebring.
Die prognose is nie goed nie. Sy onderste slagtande is afgebreek. Die senuwees steek oral uit, wat intense pyn moet veroorsaak het. Sy lyf is deurtrek van TB. As hy jonger was, kon aan sy tande gewerk word. Op sy ouderdom word dit egter gerade geag om die dier liewer uit te sit.
Eerder op ‘n waadige, pynlose wyse ‘n einde aan die ikoon se lewe maak as dat hy, te swak om homself te verdedig, deur ander roofdiere of selfs hiënas, aangeval en verskeur word, word geoordeel.
Die volgende dag word Vin Diesel se genadedood – so ‘n vorstelike dier vrek tog nie – op sy Facebookblad aangekondig. Op Sabiepark se blad deel eienaars dae lank hul eie herinneringe; ook foto’s van die legende in sy gloriedae. Sy heengaan word betreur soos dit ‘n dier van betekenis betaam.
Of enige dier gou weer Vin Diesel se plek in die harte van Sabieparkers sal neem, is te betwyfel.
Comments