top of page
Uitmelkbos

LITNETGESPREK OOR KRONIEK (II)

Skrywersonderhoud: Hennie van Deventer oor Kroniek van ’n koerantman

  1. 0

Hennie van Deventer praat met Naomi Meyer oor Hennie se boek Kroniek van ’n koerantman wat in 1998 verskyn en nou as e-boek beskikbaar is.

Foto van Hennie van Deventer: verskaf

Kroniek van ’n koerantman Hennie van Deventer Uitgewer: De Novo Boeke

Hennie, in 1998 verskyn jou boek Kroniek van ’n koerantman. Nou, in 2020, verskyn die e-weergawe daarvan. Baie van pas, so met die uitbreek van die virus saam, dat dit digitaal beskikbaar is. Het jy in al jou jare as redakteur van Volksblad en as joernalis ’n storie gehad wat so allesomvattend was soos hierdie COVID-19? Wil jy dalk ’n paar stories (of narratiewe) noem wat sake so oorheers het?

COVID-19 is ’n monster met baie koppe en ’n duisternis krioelende tentakels wat wêreldwyd in die kleinste hoekies indring. Jou beskrywing is raak. Dis allesomvattend in die ware sin van die woord. Dis ook uniek. Op die wieke van die moderne media woed die storm homself as ’t ware daagliks uit in elke huis. Wuhan het vir Suid-Afrikaners (amper) ’n bekender stad geword as byvoorbeeld Germiston.

Elke generasie se redakteurs het natuurlik hul eie oorheersende uitdagings in die konteks van heersende omstandighede, lesers se ingesteldheid, tydsgees en hul persoonlike lig op die brandende vraagstukke van hul tyd. Blaai maar net deur die geskiedenisboeke van die laaste eeu.

Soos dit op die oomblik COVID-19 is wat die media oorheers, was dit in ons era etnisiteit. In Suid-Afrikaanse konteks: apartheid. Ek het die hoogbloei daarvan beleef, die morele ontwaking by voordinkers en ook die aftakeling, waaroor harde woorde ná al die jare tot vandag toe steeds in die Afrikaner-binnekamer val. Soms nogal venynig, bitter en fel.

Die titel Kroniek van ’n koerantman het my geval weens die lekker k-alliterasie. Die klein subtiteltjie het waarskynlik ’n prominenter plek op die te besige voorblad verdien. Die boek is inderdaad ’n persoonlike perspektief op die jare ná ‘80. Ek kyk uit my klein hoekie na daardie turbulente dekade en die geweldige weerstand teen hervorming waarmee my koerant gekonfronteer was. Ek kyk deur ’n bevooroordeelde ek-bril. Dis my storie soos ek my 12 jaar as redakteur in ’n konserwatiewe gemeenskap beleef het.

Was apartheid dalk daardie jare se koronavirusstorie? Iets wat jare en jare lank aangehou het. En wat artikel na artikel sou beïnvloed. Wat is vir jou, uit joernalistieke oogpunt, eenders en anders as jy apartheid en die koronavirus as stories met mekaar sou vergelyk? Hoe baie het die wêreld werklik verander …?

Apartheid, die koerant se rol om sy hoofsaaklik bra onwillige leserskorps vir verandering ryp te maak, en die druk (ook op politici) om nie aan ’n onmoontlike droom te bly vasklou nie, is kerntemas van Kroniek. Die apartheidstorie was seker en gewis die swaargewig van die vorige era. Dinge leef voort en nuwe dinge gebeur wat ons gereeld aan daardie stekelrige turksvy herinner.

Dat ontstellende ongelykhede oor die wêreld heen wat deur COVID-19 opnuut oopgeruk is, kan niemand ontken nie. Dat mag weer eens misbruik word, sien ons elke dag in ons koerante en op TV-skerms. Situasies is dalk nuut. Maar menslike gedrag vertoon ’n merkwaardige eenselwigheid.

Afgryslike wreedhede kom voor, soos dié wat jy noem. Menselewens word deur maghebbers geminag. Opgekropte weerstand bars uit in verwoestende betogings. Oor aspekte van veral die George Floyd-drama bestaan meningsverskil. Tot daardie debat wil ek nie hier toetree nie, want misverstande ontstaan maklik waar jy – dalk uit voeling met hedendaagse werklikhede, dalk weens gebrekkige kennis – te oppervlakkig oor ’n hoogs ontvlambare onderwerp heen skeer.

Wat wel waar is, is dat hand-in-eie-boesem-situasies bly opduik. Jy word gereeld gekonfronteer met kwessies wat tegelyk uiters prakties en hoogs filosofies is, soos geregtigheid teenoor onreg, onderdrukking en rampspoedige ongelykheid. So lank jy kan onthou, was om jou wenners en verloorders, magsvrate en slagoffers, begenadigdes en vertraptes. Van die ontstaan van die mensdom kry niemand, geen ideologie of geen politieke stelsel nie, dit eens naastenby reg om redelike billikheid teenoor almal te laat geskied. Hoe baie het die wêreld werklik verander …? Jy kan dit wel vra.

Vertel my van jou tyd as koerantman. Kan mens dit opsom? Kan mens hoogtepunte deur die jare uitlig, soos opskrifte en voorbladnuus?

Watter stimulerende, verrykende loopbaan het die dinamiese omgewing van die koerant my nie gebied nie! Waar begin jy opsom?

Die sluipmoord op Kennedy in 1963 was ’n eerste kennismaking met ’n koerant in skielike, koorsagtige, snelrat. Met die moord op Verwoerd was ek ’n jong hoofsubredakteur – self totaal oorstelp. Maar ’n spesiale uitgawe moes dringend uit.

Wêreldskuddende eerstes is beleef, soos die maanlanding en die eerste hartoorplanting.

’n Verdere (onvolledige) lysie van groot nuus wat voorblaaie oorheers het: die Laingsburg-vloedramp; die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana; die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg; die Challenger-ruimteramp; die Westdene-busramp; kol Mike Hoare se staatsgreep in die Seychelle; André Stander se rooftogte en skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein; die Kerkstraatbom; die Oceanos; die pedofiel Gert van Rooyen; die Bosoorlog; die val van die Berlynse Muur; en, les bes, die ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1992.

Vertel my waarom besluit is om Kroniek van ’n koerantman weer uit te gee? Wat is die soort stories wat lesers hierin kan lees?

Die uitgewer, Coenie Nolte van De Novoboeke, stel dit so: “Ons glo dat boeke soos Kroniek stories/inligting/geskiedenis bevat wat ons kan help om Suid-Afrika beter te verstaan. In e-boek-formaat kan dit ook nie ‘uit druk’ raak nie.” Ek verwelkom die rein gedagte.

Watter soort stories? Die voorwoordskrywer, politieke beriggewer par excellence Alf Ries, skryf: “Dit is in vele opsigte kontemporêre geskiedenis ‒ ’n kommentaarboek oor een van die interessantste en opwindendste tydperke in Suid-Afrika se veelbewoë politieke geskiedenis.” Hy verwys na “kostelike staaltjies, hegte vriendskappe, maar ook heftige en bitter rusies met politici en openbare figure.” Bitter rusies met politici en openbare figure was nogal volop. Ek kies om self liewer twee anekdotes by die naam te noem: die dag toe ek uit PW Botha se hand geëet het, en hoe dit gekom het dat ek nou nog met Thabo Mbeki se sigaretaansteker vuurtjies aansteek.

Is die e-weergawe dieselfde as die oorspronklike boek? Is enigiets hier verander?

Dis presies die 1998-model. Net die woordjie “wyle” is voor Alf Ries se naam ingesit en ’n paar foto’s is bygevoeg.

Ek vra of iets van die boek verander het. Dalk moet ek ook vra: Het enige van jou standpunte, as mens, verander sedert die verskyning van die boek in 1998?

Wat vir my reg of verkeerd was, is steeds vir my reg en verkeerd. My waardes het nie verander nie. Die oordeel is ryper, hoop ek. Kollegas het my ’n kompulsiewe koerantman genoem. Gewag is ook meermale gemaak van my entoesiasme.

Die twee kan ’n giftige kombinasie maak. By my afskeid in 1999 het ek die volgende woorde kwytgeraak: “Ek kies die uitweg van die lafaard, met een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is. Daar was ongelukkig te veel van elk hiervan.” Di boetvaardigheid geld steeds.

Hoe sien jy die verlede van die media, en hoe sien jy die toekoms?

Mag ek my antwoord tot die gedrukte koerant beperk? Dis my forté en my eerste liefde, al het ek ook verknog geraak aan Netwerk24. Ek was bevoorreg om uit te tree met koerante op die kruin van die golf: met rekordsirkulasies, rekordwinste en bekers vir prestasies binne die Naspers-stal.

Almal weet egter op watter glybaan die gedrukte media toenemend verkeer. Op die lange duur is die proses, helaas, seker onstuitbaar. Maar Bob van Dyk kan seker sy tong afbyt oor die kort leeftyd wat hy (dalk in ’n onbewaakte oomblik) vir gedrukte koerante voorspel het. Hulle is (nog) nie op ventilators nie.

Die vakuum wat hul verdwyning sal laat, is vir my absoluut ondenkbaar. Niks stel jou in staat om so sinryk in ’n bepaalde omgewing te funksioneer soos ’n goeie koerant nie. Dit sal ek glo tot my laaste asemteug.

En vertel my van jou lewe vandag. Hoe maak mens as daar nog steeds stories bestaan, jy is joernalis, maar jy is nou “afgetree”?

Ek is lief vir Melkbos en is gek na my bosplek by die Krugerwildtuin. Ek skryf blogs, briewe aan koerante, af en toe ’n artikel. Ek is aktief (te aktief!) op Facebook. Ek hoop om my 80ste te vier met ’n nuwe boek – my 20ste en laaste.

Aan my ses stuks briewe oor die gewraakte Bird Island-boek heg ek groot waarde. Dat Rapport sy onomwonde apologie aan die ministers en hul naastes direk aan een van my briewe gekoppel het, was ’n riem onder die hart. Beeld het my die eer aangedoen met die plasing van ’n verwysing na een van die briewe bo langs sy mashoof: “5 Spykers in ’Bird Island’ se doodkis”. In my 79 jaar het ek nogal ’n aardige klompie koerantbriewe geskryf. Geeneen is voorheen so aangebied nie.

Waar kan lesers jou boek bestel?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Yorumlar


bottom of page