Blomme en berge.
Oor lente in die Suid-Tirool moet ‘n mens liewer ‘n lied of ‘n huppelende vers skryf as ‘n gewone blog. As lente iewers op aarde verrukliker, intenser, feesteliker en aansteekliker as hier aanbreek, sou ek daardie plek graag wou sien.
Miskien is dit die skerp kontras wat die besoeker die eerste tref: rondom jou bloeisels, heldergroen nuwe blaartjies en ‘n bont blommesee – bedding op bedding gesiggies, papawers, affodille, renonkels en tulpe – ‘n entjie verder die groen hange van die Italiaanse Alpe, gespikkel met huisies, en hul gedugte pieke nog spierwit geverf met spatsels sneeu. Die prentjie is alkant toe so asemrowend jy tol behoorlik in die rondte met jou kamera. Jou vinger klik, klik oortyd.
Voor die Aurorahotel in die sierlike vakansiedorp Meran/Merano aan die voete van die Alpe strek ‘n promenade, die Passerpromenade, wat doer in die verte in ‘n muur van groen wegraak. Op elkeen van die vele wandelpaadjie lewe dit van stappers – oues met kieries, jong egpare met kinders in stootwaentjies, honde-liefhebbers met hul troeteldiere aan leibande. Fietsryers laat die speke sing.
Die Passerrivier kabbel deur die dorp. Die straatkafees staan ingeryg op sy walle. Kelners moet spring met die kraffies verfrissende wyn uit die streek of vatbier. Verleidelike roomys verkoop soos soetkoek. Op die grasterrasse staan die piekniekmandjies met hul deksels in die lug. Op die rivierklippe baljaar die jongklomp
Almal skep van die talmende laatmiddag-sonskyn. Hulle drink die lentelug en die blommegeure gretig in. In die bome bokant hulle besing die voëls in allerlei reënboogkleure die aanbreek van die mooiste seisoen welluidend en geluksalig. Dis lente, liewe lente ….
Andreas van Wyk, oud-Matrierektor, het die Südtirol (of Alto Adago, soos die Italianers die streek noem) by die Van Deventers aanbeveel – een van die mooiste dele ter wêreld na sy oordeel. Ons sal hom altyd dankbaar bly. Tokkie twyfel nie dat dit ‘n moet vir elke toeris behoort te wees nie.
Dié stukkie Oostenryk van ouds het ná die Eerste Wêreldoorlog in die Italianers se hande geval, wat dit sedert daardie tyd danksy Mussolini en Hitler behou het, al is dit grotendeels Duitssprekend en deesdae outonoom. Dit het, in die woorde van Andreas, die voordeel van Germaanse orde en netheid, gemeng met Latynse lewensvreugde.
Dit was ook ons ervaring. Wat ‘n voortreflike plek met sy onvergeetlike natuurskoon, pragtuine en indrukwekkende, moderne kruiebaddens.
Appelboorde in volle blom.
Die botaniese tuin van die Trauttmansdorfkasteel is skouspelagtig. ‘n Mens vergaap jou aan die kleurryke terrasse wat in die vorm van ‘n amfiteater ‘n reusemeer omvou. Flora uit elke hoek van die aardbol word aangetref; uit Suid-Afrika onder meer “hottentotfeige” en “pig lilys” – ook turksvye, joekas en spekbome.
Die Terme Merano bied 13 swembaddens onder dak en 12 buite, asook ‘n verskeidenheid borrel- en stoombaddens. Jy voel soos ‘n miljoenêr as jy in weldadige water van 37 grade deur die glasmure van die manjifieke struktuur die Alpewêreld in sy ryke verskeidenheid lê en bewonder.
‘n Bonus is ‘n spesiale ode aan die lente met ‘n buitengewone jaarlikse kunsfees in April, met kreatiewe kunswerke van oraloor, gespikkel deur die stad se tuine en pleine.
In die omgewing van Merano is skilderagtige plekke soos Dorf Tirol met die reusekasteel waar Tirool sy naam vandaan kry. Wandelpaaie neem jou verby uitgestrekte wingerde met die eerste groen blaartjies, appelboorde in die blom en die groenste groen valleie vol tradisionele Tiroolse huisies.
Maak, terwyl jy daar is, eenvoudig tyd en vat die bus na Kreuz Tirol, doer hoog in die Alpe. Bêre ‘n kraffie of twee van die huiswyn in die bergrestaurant. Voel klein tussen die massiewe pieke en wees dankbaar oor die vreugdes van menswees.
Kommentare