Die Regering se voetjie-voetjie-spelery met Moedertjie Rusland herinner my aan ‘n kuiertjie in 1990 – die dae van Gorbatsjof. Een van die vreemde verskynsels vir die SA besoeker was daardie koddige land se vakansiekultuur. Dalk is dit deesdae anders, maar destyds is strandapartheid streng gehandhaaf. Daaroor het ek o.m. geskryf in ‘n reeks artikels vir die Afrikaanse dagblaaie.
DIE strande aan die Swart See by Odessa in die Oekraine is stampvol vakansiegangers. Hulle ry trapkar op die kalm water, baljaar in die Augustus-son en speel ‘n potjie biljart, skaak of tafeltennis in die buitelug. Van hulle was tot vier jaar op ‘n waglys van ‘n vakbond wat ‘n uitspanplekkie by die see besit. Ander het sewentig geword voordat hulle só ‘n kans kry.
Baie het een of ander kwaal – die algemeenste paspoort tot die begeerde sertifikaat wat ‘n gesubsidieerde vakansie hier of in die Krimgebied, in die Kaukasusberge en aan die Riga-kus moontlik maak. Vakansiegangers wat uit eie sak betaal, is ver in die minderheid. Net die rykstes kan dit bekostig. Vir die ander, 10 tot 12 miljoen per jaar, betaal hul vakbonde tot 70 persent van die rekening, ook met die oog op behandeling in een van die honderde klinieke aan die kus.
Die mediese aspek van ‘n seevakansie word sterk beklemtoon. Die see- en berglug van die Krimgebied ewenaar die genesende waarde van die Franse Côte d’Azur vir asemhalingsprobleme, is die aanspraak. ‘n Plaaslike geloof is selfs dat net een druppel op die vel van die beroemde swaelwater van Dagomies, naby Sotsji in die Krimgebied, ‘n verjongingskuur is. Hawaii, Jamaika en Florida in Amerika kan in dié opsig (maar seker ook darem net hierin!) gaan slaap, spog die Sowjet-burgers.
By van die oorde agter die Ystergordyn is selfs klein skooltjies vir besoekende kinders. Die vakansiehotel by Misjkor spesialiseer in vakansies dwarsdeur die jaar, en het elf onderwysers wat die kinders met lesse, huiswerk en allerlei opvoedkundige programme besig hou. ‘N TIPIESE dag vir vakansiegangers met ‘n gesondheidsprobleem begin met ‘n paar uur in die kliniek. Daar is egter ook die gelukkiges wat hul vakansie-sertifikate van hul vakbonde gekry het as beloning vir goeie diens. Vir gesondes en ongesondes waarborg die sertifikaat ‘n plekkie op ‘n strand, maar vir saunabaddens, massering, psigoterapie en die huur van TV-stelle moet almal self opdok.
Wat opval in Odessa, sogenaamde ”pêrel van die Swart See”, is die ”strand-apartheid” wat streng gehandhaaf word. Oorsese toeriste het ‘n spesiale ”Intourist-strand” wat met tralies van die openbare strande afgehok is. Die reisagentskap Intourist behoort aan die regering. Selfs op dié strand is die geriewe egter maar oes. Die sogenaamde kroeg en ‘n restaurantjie is beknop en slordig. Van die gewone strandfront-ontwikkeling waaraan ‘n Westerling gewoond is, sien ‘n mens geen teken nie. ‘N ONTNUGTERING is dat die hotel van kwalik eenster-gehalte minstens ‘n halfuur se busrit van die see is, deur ‘n neerdrukkende nywerheidsgebied met stink rook, vuil fabrieksgeboue en druk vragmotorverkeer. Jy wonder oor die nywerheidsafval wat in die see gestort word wanneer jy versigtig ‘n toon in die Swart See steek. Van die openbare strande is die ene klipbanke tot teenaan die see. Branders is skaars en die sand grof. By Jalta in die Krimgebied, wat volgens foto’s in ligging en voorkoms veel nader aan ‘n Westerse vakansie-oord kom, is egter geen sand nie, net spoelklippies.
Stranddrag verskil min van dié in Suid-Afrika, maar is klaarblyklik minder modieus as die jongste skeppings wat Clifton en ander uithangplekke van professionele Suid-Afrikaanse sonaanbidders versier. Bikini’s is volop, maar die bostukke word aangehou.
Comments