Lappies en Gretchen op die plaas in 2010 – fotograaf John Kolbe
Dis omtrent ‘n LAPPIES-kombers op die Volksblad-familieblad. Almal las net lappies aan oor Lappies, hooffotograaf van Die Volksblad van die 50’s tot diep in die 80’s – ‘n ware karakter.
Lappies was kleurryk op sy eie unieke manier. Skynbaar ‘n ware ou grompot agter die baard. Maar ‘n hart van goud; ‘n “heerlike mens”, soos een van die jonger redaksielede hom beskryf het. Hulpvaardig ook as die jongetjies kleitrap. Meer as een onthou soos Ollie Olwagen:
“As Volksblad-beurshouer laat in die jare vyftig het ek as Kovsie-student vakansies by die blad gewerk. Vir my heel eerste onderhoud het Lappies as fotograaf saamgegaan. Tipies die grasgroen snotkop was ek hopeloos te onervare om te weet hoe ek die vrae moes stel. Lappies het maar ingegryp en uitgevra, en ek het die skryfwerk gedoen. Baie dankie, Lappies …”
Een van my eie “jeugherinneringe” aan Lappies was toe ons op ‘n sending saam was Golden Gate toe. My oé het amper uit my kop geval toe die Administrateur, Oom Sand du Plessis, Lappies vra wat hy wil drink, en self vir hom sy brandewyn en Coke by die kroegie gaan haal. Hoeveel fotograwe is deur ‘n administrateur bedien? Maar dit sê iets van Lapppies … natuurlik ook van Oom Sand.
Dat Lappies ooit sou trou, het ek nooit vermoed nie. Hy was die klassieke vrygesel. Deernis en teerheid sou min mense by daardie woeste baard, forse stem, knoetsige lyf en nog knoetsiger geaardheid antisipeer.
Toe gaan hy en kollega Sarel Venter in 1972 op een van daardie Volksblad-toere Europa toe onder die vaandel van Rontoer van Piet Kruger. Sarel vertel op die familieblad:
“Lappies en ek was kamermaats. In die toergroep was Gretchen Dohrman. Die twee het verlief geraak en op die SAL-vlug huis toe het die kaptein hul verlowing oor die luidspreker aangekondig. Byna almal in die toergroep van 50 het agter in die vliegtuig gaan saamdrom om die tweetjies geluk te wens, maar die kaptein het versoek: ‘Passasiers moet asseblief hul sitplekke inneem want die vliegtuig raak uit balans.’
“Toe het Lappies uit die stuurkajuit aangekondig dat hulle nié verloof is nie. Ses maande later is hulle wel getroud. (Die verlowingsaankondiging is bewimpel deur ‘n reisgenoot, Jakkie Versluis, ontslape pa van Jeanne-Marie Versluis, ‘n gewese Volksbladder).
Amper turbulent geraak op daarde vlug! ‘n Eie turbulensie rondom Lappies onthou ek uit die jare 60. HvD neem die eerste keer waar as nuusredakteur, en is – nodeloos om te probeer ontken – erg bewus van die belangrikheid van die amp en die tydelike bekleder.
Lappies word gestuur om ‘n voorbladfoto te gaan neem en die voorblad – onthou, Die Volksblad was nog ‘n middagblad, word ‘n rukkie vir die Lappiesfoto vertraag. Die onderwerp is drie mooi onderwyseressies wat nog by die skool met die punte en dinge doenig is nadat die kinders reeds vort is met vakansie.
Lappies sit die foto voor my neer, – tegnies so onbesproke soos al sy foto’s, waarvan letterlik duisende oor die jare die koerant moet versier het (ook baie spesiale rugbyfoto’s wat hy met sy lomp Speed Graphic in die hand op en af langs die veld geneem het).
My hart sink egter deur die vloer. In die middel van die foto is die dierbare gesiggie van my pasgewonne verloofde, Tokkie van Wyk, die ene soet glimlaggie. Dit was nie ‘n mooi toneel wat gevolg het nie: die waarnemende nuusredakteur, klaar ietwat oorspanne, wat geheel sy selfbeheersing kwytraak en wild op die ouer man begin skree; Lappies wat voet by stuk hou en verergd terugknor: “Biedêm jou, Hendrik. Jy is mos nou skoon bedonnerd, man.”
Tyd was daar nie. Enigste alternatief vir die voorblad was ‘n foto van twee Duitse meisies in sjoebroekies wat op ‘n leer staan en ‘n olifant in Berlyn se dieretuin met besems was. Moet seker een van die onnuuswaardigste foto’s wees wat ooit op ‘n dagblad se voorblad verskyn het. Die baas was nie geamuseer nie.
Vir die tweede uitgawe was Lappies terug met drie ander onderwyseresse. Nie een naastenby so mooi soos Tokkie van Wyk nie. Maar gelukkig almal aan die waarnemende nuusredakteur geheel onbekend.
Agtrna het ek vir Tokkie die dood voor die oë gesweer as sy ooit weer op ‘n Volksbladfoto sou verskyn. As jy ‘n kamera sien, dra jou mooi beentjies!
Comments