Wat laat Crito lag?
Dis Annelise Erasmus wat wil weet, in die aanhef tot haar resensie van Hans bars die bioborrel, van Rudie van Rensburg.
Eintlik rig sy haar vraag aan al Rapport se lesers, maar ek was gevlei genoeg om die vraag persoonlik op te neem. Julle weet mos, daai teorie van die reseptiewe leser.
As julle my vra, het nig Annelise hier ’n oomblik van Derridaanse apprendre à vivre beleef. Sy het die boek gelees en gedink o fok wat maak ek nou, nè? Toe raak sy regtig mature oor die dilemma. Sy weet sy kon maar soos ’n beginnerresensent die storie vertel en ons tune van hoe sy gelag het soos ’n trust fund kid wat sy Amarok gekrok het. Maar sy het nie. Sy het ’n pad gekies, apprendre à vivre mos, die een wat net ’n uitgelese handjievol Afrikaanse resensente bewandel, en ’n werklike verskil gemaak deur ons iets nuuts te leer.
Dis die ding. Sy gebruik humor as aanknopingspunt, en riff daarop asof sy Abdullah Ibrahim is wat ’n suspended 7th herontdek het. Dink net. Tydlose, skynbaar ewigdurende klankplesier.
So, ek begin haar resensie lees en ek is soos in, eish, Helen en Carl en prof Zumbastic en die NG-homofobe en military veterans onder 30 en die Goue Leeus en Steve Stofsuier en die anties by die tombola-tafel laat my lag. Of daai ou wat voorheen bevoordeelde sekswerkers melkterte noem. Tot my ewige skande moet ek ook erken dat die hotelbestuurder in White Lotus se veelbesproke bolliepatrollie my so laat lag het dat my wangspiere nou nog voel asof Dan Roodt hulle geleen het vir ’n poësievoorlesing.
Maar dan maak sy haar moves met Aristoteles en Plato en Sigmund Freud. Die twee Griekse denkers skiem, nes daai joker Hobbes, dat mens lag vir situasie waar daar ’n “ons” en “hulle” is, en die ons ‘n effe nugter afstand kan kry op die dinge wat die hulle doen. Sy verduidelik dit dan aan die hand van ’n opmerking oor iets in Hans bars die bioborrel.
Maar vir julle wat nog nie die boek gelees het nie, moet ek dalk net verduidelik dat “ons” is soos die Sacketts in ’n Louis L’Amour-roman, en “hulle” is soos die anti-vaccers op ’n vliegtuig. Die baddies op die morele sirkus van die lewe.
Freud se teorie oor humor en die verligting van spanning sluit mooi aan by die gebeurde en regulasies in Huis Madeliefie in die roman. Om dit te vertaal na ’n meer bekende voorbeeld: Alles waarmee Rooipiet Moolman worstel in Anton Roodt se Weerlose meganika in sy poging om ’n entertainment te maak van Die Slag van Bloedrivier kan beskou word as die verligting van spanning.
Daarna praat sy oor ander teorië oor humor - oor onversoenbaarheid en onvanpastheid, onskuldige oortredings, politieke korrektheid, en die fyner dingetjies soos satire, slapstick en klug, en dinge soos woordspeling en spreekwoorde, goeters wat ’n taal uniek maak.
In hierdie stadium van die resensie het ek reeds ’n paar gevolgtrekkings gemaak. Ek koop Annelise se humor-ontleding. Ek koop die idee dat Hans bars die bioborrel die moeite werd is om te lees en dat ek baie gaan lag. En dis vir my belangriker om te sien waarheen die argument op pad is, want dit is kwalik deel van die evaluering van die boek self.
Sy verskuif haar fokus na die manier waarop die belewing van humor ook ’n belewing van Afrikaans as taal is. Die taal van die boek lewe in die monde van senior burgers, ’n verouderde vorm dikwels, met spreekwoorde en gesegdes gans onbekend aan vandag se skoolverlaters en mak Kaapse aktiviste wat seur oor skoolname en sulke belangrike dinge.
Ek veronderstel Annalise Erasmus sou ook kon uitwei oor ’n ander pikante hoek: Die lesers (van die resensie, wat moontlik ook die lesers van die boek sal word) wat identifiseer met die mense in Rudie van Rensburg se Hans-romans, is die geslag Afrikaners wat die kunstefeeste op Oudtshoorn en Potchefstroom en Bloemfontein hul lewenskrag gegee het, en sedert die jare negentig die groot kopers van Afrikaanse romans was.
Dis ’n geslag waarvan die getalle krimp. Die KKNK, Aardklop en ander feeste is in ’n oorlewingstryd. Uitgewers is ongetwyfeld bewus daarvan. Ek dink ons kan aanneem dat as Rudie van Rensburg Hans bars die bioborrel eers in 2041 geskryf het, die taalgebruik daarin heel anders sou gewees het - die soort eenvlakkige semantiese taalverskynsel wat vandag op RSG leef, sans spreekwoorde en beeldspraak wat dateer uit die pre-digitale era.
Annelise Erasmus se aanpak van hierdie resensie is hoogs oorspronklik. Sy het ons iets geleer - en sy het ook ander gedagtes oor die veranderende aard van Afrikaans en Afrikaanse humor by my gewek. En ek is bekommerd.
As laaste gedagte ’n eerlike antwoord op haar vraag wat dit is wat Crito laat lag. Dít: Wat is die verskil tussen ’n blinde kol en ’n G-kol? As jy nie weet nie, klim ek nooit in ’n kar wat jy bestuur nie.
Comments