top of page
Uitmelkbos

KRONIEK VAN ‘N KIERIEMAN


Sakkie Perold se grinnikboek van 1976

Ja, al is julle hoe hartlik sat en verveeld, gaan ek nog ‘n paar boustene inmessel in my muur van bejaardes van wie vele dinge kon gekrimp het, maar waaragtig nie hul grysstof nie.

 Ek werk nie aan ‘n boek met die titel Kroniek van ‘n Kierieman nie (mooiklinkende opvolg vir Kroniek van ‘n Koerantman van amper 15 jaar gelede), maar dit bly ‘n gunsteling-onderwerp – seker maar omdat ons oues soveel beledigings moet sluk, skimpe moet verduur dat ons nie meer is wat ons was nie, en moet saamlag oor lawwe stories oor sogenaamde “senior oomblikke”.

 My muur is al mooi hoog gemessel.  Eerste steen wat ek vandag op sy plek neersit, kom uit vanoggend se Die Burger:  adv.Sydney Kentridge QC, wat in Londen “verlede week nog, op sy 90ste verjaardag, in ‘n belangrike saak verskyn het.” ‘n Regs-metusaleg, soos verskeie ander sy edeles en edelagbares.

 In Sakkie Perold se glimlag- en grinnikboekie Glimlag of Grinnnik 1996), lees my liewe Tokkie, altyd ‘n wakker verkenner, verlede week die volgende raak:  

Sokrates het op 70 van sy grootste werk as filosoof gelewer. Goethe het Faust op 82 voltooi. Smuts was nog op 78 eerste minister van Suid-Afrika. Churchill was premier van Brittanje op 81.Gladstone het hulle getroef deur op 83 die vierde keer eerste minister van Engeland te word. 

 In ‘n spesiale vakkie gemerk “Oud maar nog nie koud nie”(daarin is ook die storie van Anthony Quinn wat op 78 ‘n sogenaamde liefdeskind verwek het) bewaar ek ook al geruime tyd ‘n brief van ene Linda in By. Dankie, Linda, vir die volgende juwele:

 Robert Frost het bly dig nadat hy 70 was. Wordsworth het sy laureateship verwerf toe hy 73 was.  Victor Hugo he  Les Miserables geskryf toe hy 62 was.  Bacon het sy beste werk geskryf na 60.  Churchill het die Nobelprys vir letterkunde verwerf toe hy 79 was. In 2005 was die deursnee-ouderdom van Nobelpryswenners 73.

 Colette was 72 toe sy haar beroemdste werk, Gigi, geskryf het. Verdi het  Falstaff geskryf toe hy 80 was.  Somerset Maugham het sy topverkoper Point of View op 84 geskryf. Sophokles het ‘n deel van die Oedipus-trilogie geskryf toe hy 90 was.

Albert Einstein het laat in sy lewe aan kernsplitsing begin werk.  Een van Arthur Rubinstein se grootste klavierkonserte was op 80. (Ander bronne praat van 92.) Pablo Casals het ‘n tjellokonsert gegee toe hy 88 was.

 Mag ek byvoeg: Les bes, Hennie van Deventer het hierdie blog geskryf toe hy nog bloedjonk was – twee maande voor sy 72ste verjaardag? (LOL)

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page