Jammer om dit so brutaal te stel, maar die besluit om met die Twee Oseane-marathon deur te druk hoewel die Kaap met die een voet in ‘n bittere put-sonder-water staan, laat die hedonisme hoogty vier. Praat van viool speel terwyl Rome brand!
Die vroom verduideliking dat “geen munisipale water gedurende die marathon” gebruik gaan word nie, gaan werklik nie op nie. Dis maar ‘n yl poging om die gewetes van die organiseerders te salf en besorgde Kapenaars te paai. In gelukkiger omstandighede sou ‘n mens jouself selfs ‘n wrewelrige glimlaggie oor so ‘n ligsinnigheid kon veroorloof.
Die waarheid is dat die marathon ‘n reuse-magneet is wat derduisende mense na die Kaap lok. Hulle kom om mee te ding maar ook vir ‘n lekker tyd saam met vriende en familie.
Die krane word oopgedraai, letterlik en figuurlik. Die atlete en hul metgeselle was, stort, bad en spoel. Wasmasjiene tol sonder ophou.
Die Kaap se waterkrisis is ‘n aaklige ramp. Het iemand met gesag nie genoeg murg in die pype om die voet dwars te sit nie, ongeag die ekonomiese en watter ander voordele ookal? Die onverantwoordelikheid om ons laaste paar kosbare druppels aan die emmer met plesiersoekers te wil deel, is asemrowend.
‘n Brandstapel is geen plek vir ‘n kermis nie. ‘n Stad wat wurg aan waternood is ook geen plek vir sulke jollie ontvlugtingsbyeenkomste nie, jammer.
Comments