Clive en Heletia Oosthuizen
Het ons smaak opgeraak of ons geld? Het moderne kerkargitekte die kluts kwytgeraak? Is dit maar net ek wat ‘n ongeeslike tradisionalis is wat nuwer kerke hoofsaaklik as klinies, koud en gestroop van atmosfeer beskou?
Met sulke vrae het ek gister uit die Anglikaanse kerk St. Oswalds in Milnerton gestap ná die begrafnis van die Probus-veteraan Clive Oosthuizen wat op 79 oorlede is. Dit was in my 72 jaar net my tweede Anglikaanse begrafnis. Die eerste was 20 jaar gelede in Bloemfontein. Albei het tot my gemoed gespreek.
Natuurlik is die gewydheid van die seremonie ‘n sterk atmosfeerskepper: die kerse, die priester se kleed, die prosessie, die besprinkeling van die kis in ‘n nuwe doop tot ‘n ewigheidsverbond, die keuse van liedere en musiek, die algemene waardigheid en stemmigheid.
Ook tref die rye, rye Bybels in die kerkbanke – vele as geskenke van naasbestaandes ter ere van hul geliefdes wat gesterf het; die veelkleurige bidkussinkies in stapeltjies op die punt van die ry, die muurbehangsels. Alles in liefde deur die gemeente bygedra.
Maar dit is die kerk, die argitektuur, die struktuur, wat in die eerste en finale instansie die kerk-ervaring vir jou meer as gewoonweg betekenisvol maak. Die liturgiese ruimte met sy subtiele natuurlike lig, die halfmaan-koepel agter die kansel, die loodglasvensters, die swaar houtbalke, die hoë plafon, die donker blokkiesvloere. As jy instap, voel jy dis kerk; die Here is hier – popsangers of raserige kitare sal hier onvanpas wees.
Nuwer kerke laat jou (vir my altans) soms voel jy stap sommer by ‘n doodgewone sekulêre bousel in – dalk ‘n skoolsaal of duiweklub, waar popsangers of raserige kitare ook gemaklik tuis sal wees. En soms wel hul buiging kom maak. Daaraan sluk ek maar moeilik.
Naskrif: Met Ouma se dood het vriende ter nagedagtenis by die Gideons ‘n Bybel in haar naam gekoop. Daardie Bybel bring dalk iewers vir ‘n vreemdeling troos of hoop iewers op ‘n onbekende plek. Tog iets van groter waarde as ‘n verwelklike bossie blomme of nie?
Comments