Elke liewe dag ter see kom sowat 16 000 borde kos uit die Queen Mary 2 se kombuise. Die formidabele taak verg ‘n garnisoen van 163 kokke en 85 dienspersoneel wat die 87 000 stukke skottelgoed moet was, die potte en panne moet skuur en die 8 000 linneservette moet was en stryk.
Optog van die kokke.
Die laaste formele aand van elke skof op die wêreldvaart – tussen Kaapstad en Sydney was daar sewe sulke strikdas-aande – kom die mense met die lang wit hoede agter die kospotte uit. Op die maat van musiek en ritmiese handegeklap marsjeer hulle deur die gaste in aanddrag voordat hulle die eetsaal se swierige trappe bestyg en in formasie stelling inneem vir ‘n voorstellingsparade.
Ons wis van niks totdat ons kelner Michael Vitug die voorgereg bring en kopskuddend opmerk: Ai, dis jammer dat “monsieur” nie vanaand sy kamera saamgebring het nie. Dit plant ‘n saadjie. Met my New York-kaaskoek agter die blaaie neem ek die groot besluit. Ek spring op en gaan haal die Canon in ons kajuit in die boeg wat skielik ekstra ver voel. Uitasem daag ek net betyds op om op die see van kokke-dore te korrel.
Die voorgereg was – en verskoon tog maar die Engels in die biezondere omstandighede – “Parfait of Duck Foie Gras with Carmelised Pear and Sauternes Jelly” vir Tokkie en “Escargot Bourguignon” vir die uwe; ‘n avontuurlike eerste kennismaking met slak. Smaak na meer ….
Daar was ook nog ‘n “Terrine”, ‘n “Cream Caroline”, ‘n “Bouillabaisse” en ‘n “Chilled Cream of Mango with Toasted Coconut” – ‘n verskeidenheid wat verklap het iets groot is in die weer.
Maar dit is die keuse van hoofgeregte wat beklemtoon dat dit nie sommerso ‘n gewone aand is nie. Ek en Tokkie laat die die “Penne Bolognese”, “Fillet of Lemon Sole”, “Roast Duck Montmorency”, die “Potato and Rocked Torte” en “Vegetable and Pine Nut Crusted Cutlet” by ons verbygaan. Soos een stem ons vir die “Surf and Turf Blackened Fillet Mignon, Grilled Lobster Tail with Chardonnay and Garlic Butter, Bearnaise Sauce”.
Later stem ons hartlik saam: Ons keuse was in die kol. Die vars Australiese kreef – by Perth ingeneem – was “Perth-ek”. ‘n Lekkerder bord kos was op die ganse vaart nie voor ons by tafel 114 nie.
Hoop maar die versamelde menigte van ander volkere en nasies het in die SA waters ewe veel plesier aan plaaslike geurtjies gehad, soos pampoenkoekies (net so op syn Afrikaans op die spyskaart), geelstert, volstruis, springbokmedaljons en “malavapoeding”, ekstra a en al.
ONDER: Watter kos vat die kroon? Die kokke pak mekaar in die kombuis.
Hoe die 15 dosyn kokke dit regkry om elke aand sulke eksotiese fynproewerdisse in die kraakskoon kombuise van vlekvrye staal op te tower? Wel, daar is 21 koelkamers op die skip. Daarin word die 9 000 kilogram vark, 7 500 kilogram bees, meer as 9 000 dosyn eiers, 33 000 kilogram aartappels, 5 500 kilogram rys, 21 000 liters melk en al die ander kos wat vir ‘n vaart van 22 dae nodig is, vars gehou. (Nie heeltemal waar nie, want by elke hawe word kaste vol vars kos met hyskrane gelaai.)
Asof hulle hulle nie buitendien klaar moet morsdood werk om die magies van die 2 600 passasiers vol te hou nie, hou die kokke onderling nog ‘n groot kompetisie wat hulle seker dwarsdeur die nag moet laat bak en brou. Die resultaat is ‘n fees van prentjiemooi kos wat die indrukwekkende Queens Room-balsaal in ‘n voedselskou van die hoogste orde omskep.
Elke passasier word ‘n stembriefie in die hand gestop om die wengeregte te help identifiseer. Ek moet my oorblufte onvermoë maar hier bely. Die stembriefie is verfrommel en in my broeksak gestop, terwyl my kamera aanhoudend flits … en ‘n onverwagte hongerte my skielik beetpak.
Naskrif: Gesondheidsbewustes word nie afgeskeep nie. Vir hulle word spesiale voorsiening gemaak met ‘n heelwat skraler spyskaart waarop die kalorieë, vet- en veselinhoud van elke gereg aangedui word.
Comentários