Die kuns van die kopskrywer (skrywer van opskrifte) is selfs groter as wat dit dalk lyk. Die uitdaging is nie net om ‘n treffende opskrif te skryf nie. Nee, dit moet, kom wat wil, in ‘n bepaalde ruimte inpas.
Sonder om te tegnies te raak: Des te groter die lettertipe en des te minder die kolomme, des te moeiliker word jou taak om in ‘n paar woorde die essensie raak te vat. Dit is die eis wat die bladplanner aan jou stel, en jy moet eenvoudig sien en kom klaar. Dis al.
My briljante oud-kollega Ollie Olwagen herinner n.a.v. my storie in Die Burger en ‘n vorige blog oor gevatte koppe aan ‘n stoepie (berig onder op die blad was ‘n stoepie genoem, nogal verbeeldingryk, dink ek) jare gelede op Die Volksblad se voorblad toe daar absoluut slegs plek was vir ‘n kort eenreëlkop vir prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ‘n opvoering totaal toegegooi was onder die blomme: Dit was ” ‘n Blom-Fonteyn”.
My vermoede is dat dit ‘n Ollie-kop was. Niemand kon vir hom kers vashou nie. Hy is later by Huisgenoot vereer met die Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit – dalk die enigste bekroning in sy soort.
Sou graag ‘n hele lys Ollie-koppe hier wou plaas. Hy is egter maar ‘n beskeie man. Kollega André Brink onthou darem vinnig uit die vuis uit twee:
Ene L. Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.
Moshe Dayan, bekende Israelse politikus met ‘n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ‘n artikel oor daardie voorliefde was Ollie se kop: “Moshe het ‘n oog vir oudhede”.
Ollie was inderdaad iemand met ‘n kop vir koppe … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, iemand wat sonder veel kopkrap goeie koppe kon skryf.
Lesers het lekker saam gesels oor die opskrifte-storie. Isabel Cilliers – oud-joernalis wat ‘n biblioteek-professor geword het – het Saterdag die ene op die voorblad van Die Burger raakgesien: “Swart Vrydag: kopers van hul trollie af”. Ja, dit was netjies, Isabel.
In die tyd dat Doom in Suid-Afrika so in die nuus is, herinner oud-kollega Tom Ferreira my aan die opskrif in ‘n koerant in Engeland nadat ‘n verveelde hondjie in die afwesigheid van die huismense aan Kersgeskenke begin kou het. Een van die geskenke was ‘n spuitkan met ‘n reukweerder. Die einde van die avontuurtjie was ‘n paar vensters wat uitgeblaas is en ‘n bank in vlamme. Die hondjie was ongedeerd.
Die opskrif: “Scooby Doom.”
In die vorige blog gemeld hoe die Engelse taal hom leen tot skitterende opskrifte, soos hierbo. Sonder om ‘n te lang relaas te lewer, gee ek net nog drie voorbeelde van uitmuntendheid.
Toe Michael Foot leier van die Britse Arbeidersparty was, is hy aangewys as voorsitter van ‘n komitee wat oor kernontwapening moes beraadslaag. The Times (‘n ernstige koerant wat nie tyd het vir speletjies nie) kom toe met die onvergeetlike opskrif vorendag: “Foot head arms body”.
Dan was daar ook in die VK die geval waar ‘n aangehoudende in ‘n asiel ‘n skropvrou verkrag en daarna gevlug het. Die pittige (stouterige, as u so verkies) opskrif in die koerant was “Nuts screw washers and bolts.”
Die agterblad behoort tradisioneel aan Sport. Kom ons eindig met ‘n sportkop, met die komplimente van Johannes Wessels, outeur van die berugte “Moedertie Rusland wydsbeen oor die Horing van Afrika”. Hy vertel die dag nadat die All Black Jonah Lomu die drieë teen Wallis ingeryg het, was die opskrif van ‘n Walliese koerant bo sy rugbyverslag: “Jonah devours Wales”.
Saterdag kon dit gewees het: Wales devour frail antelopes!
Comentarios