Barnard Beukman, Johanna van Eeden, Herman le Roux en die uwe by “Koos se gebou” op “Hennie se grond”.
By my afskeid van Naspers amper 20 jaar gelede het Ton Vosloo, uitvoerende voorsitter, “opdrag gegee” dat ek na die inwyding van die Perssentrum / Mediasentrum in Aucklandpark genooi moet word. Niemand het dit genotuleer nie, en ek is nie genooi nie.
Die laaste twee dekades brand ek van nuuskierigheid oor daardie gebou waarvan ek in ‘n sekere sin die vergete vader is. Ek het die grond uitgekies; dit maak dit as’t ware “my plek”, al onthou niemand dit nie.
Die opdrag het in 1997 van Ton na my gekom: soek vir ons grond vir ‘n nuwe gebou in Johannesburg. Ek het Jan Malherbe, noordelike hoofbestuurder, ingekatrol. Ons het intensief gesoek.
Die middag toe Jan en Johan Vosloo, bestuurder van Beeld, ten einde laaste vir my die perseel gaan wys (‘n hoek van die ou Johannesburgse buiteklub) was ek in die wolke. My woorde was: “As ek nou ‘n tjekboek en ‘n mandaat van die Pers gehad het, het ek die grond net hier gekoop.”
As Naspers se hoof van koerante was ek geruime tyd ten nouste betrokke by die projek. In ‘n stadium moes ek sterk walgooi. Die nog jeugdige Koos Bekker, nuwe besturende direkteur van die Pers, wou sommer daardie wonderlike stuk grond verkoop.
Sy ideaal was dat die redaksie en die rolpers van Beeld in dieselfde gebou moet wees (soos by Die Volksblad) – waarmee ek in beginsel dit van harte eens was. In die praktyk sou dit egter beteken dat die redaksie en advertensie-afdeling iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied sou beland, wat ver van ideaal is. Gelukkig het van die verkopery toe niks gekom nie.
Die gebou self het eweneens ‘n hele geskiedenis wat min sal ken en onthou. ‘n Komitee is saamgestel om met planne te kom. Ek was die voorsitter. Die kontrak is aan die voorste Randse argiteksfirma Boogertman Krige toegeken.
By ‘n voorlegging in die Kaap deur Annemarie Krige van B.K. se finale ontwerp teen die einde van 1997 het die nimlike Koos haar prontuit meegedeel dat dit vir hom ‘n “aaklige” gebou is. Die gedugte dame was betraand. Die uwe was ongelukkig omdat ek voorsitter van die komitee was wat vir die ontwerp moes pa staan. Die volgende dag het ek vir my nuwe baas gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en aan die verkeerde adres gerig.
Sy antwoord was dat hy begin agterkom by die Pers praat ons nie so openhartig met mekaar soos by M-Net die geval was nie. Selfs ‘n sekretaresse sou haar daar oor die gebou kon uitspreek.
Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur finaal agter my toegetrek. Darem nie oor hierdie besigheid nie!
Die ontwerp van die gebou is daarna teen groot koste ingrypend verander. Senior direkteur van Naspers Boetie van Zyl se woorde aan my was: ons kan tog nie ‘n gebou oprig waarvan die nuwe besturende direkteur niks hou nie.
Oor hoe “Koos se gebou” op “my grond” lyk, het ek baie gewonder. Niemand het die afgetredene ooit genooi om te kom kyk nie.
In Desember 2016 het ek begin voorbrand maak om tog wel te gaan kyk. Ek het vir Barnard Beukman, redakteur van Beeld, laat weet ek is ‘n paar dae in Johannesburg en sal dan graag inloer. Buiten vir my nuuskierigheid oor die gebou was ek darem self ook ‘n Beeldman.
Van 1974 tot 1977 was ek die eerste nuusredakteur, en daarna assistent- en senior assistent-redakteur. In 1980 het ek redakteur van Die Volksblad geword. In 1982 is die redakteurkap van Beeld my aangebied. ‘n Terugverhuising na Johanesburg was uit ‘n logistieke hoek egter nie vir my haalbaar of wenslik nie. Maar albei die koerante is na aan my hart.
Kan dankbaar rapporteer dat ‘n uitnodiging kort na my boodskappie aan Barnard Beukman op pad was. Op Donderdag 9 Maart het ek toe die eerste keer by die voordeur van daardie imposante gebou ingestap. Barnard het omtrent ‘n rooi tapyt vir my en my Randse gasheer, kollega Herman le Roux, uitgerol.
Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media24 se koerante, en Marga Ley, ‘n senior redaksielid van Netwerk24 (voorheen van Beeld), het hulle by ons aangesluit vir ‘n besigtigingstoer en ‘n gesellige middagete. Oral is foto’s geneem.
Die ou gebou in Millerstraat, Doornfontein, waar Beeld in September 1974 die eerste lewenslig gesien het, was ver van deftig. Hierdie modern nuweling is in ‘n ander klas – ‘n indrukwekkende plek met elke hedendaagse gerief.
Indrukwekkend maar so stil.
Dit tref net dat die gange en kantore so stil en leeg is. Jy mis die geroesemoes van die koerant soos jy dit geken het. Die gebrek aan mense, stemme, geluide en aktiwiteit is nogal neerdrukkend. Die boodskap is maar net nog ‘n teken: in die medialandskap van vandag raak die gedrukte koerant ‘n al hoe kleiner spikkeltjie.
Die geheelindruk van “Koos se gebou” is, ondanks al die natuurlike lig, byna somber.
Hierdie gryse veteraan is nietemin in sy noppies dat hy uiteindelik die knoop deurgehak het om weer ‘n voet op daardie boomryke stuk aarde te sit wat in 1998 op sy aanbeveling van die Johannesburgse buiteklub aangeskaf is.
“Hennie se grond” was ‘n goeie koop.
Komentar