Die woord “scoop” het in my lewe nogal ‘n rol gespeel. By koerante waar ek betrokke was, is “scoops” ywerig gejaag. Op my eie naam staan ‘n paar lekker “scoops”. In die titel van my eerste boek wat Tafelberg 20 jaar gelede gepubliseer het, kom die woord “scoop” voor: “Scoops en Skandes”.
Vandag spog ek met ‘n boeke-“scoop”. My kollega en vriend Johan van Wyk (afgetree in die Strand) se langverwagte boek is op pad – en ekke, hvd, kan hier vir julle “eksklusief” wys hoe lyk die omslag. Ek beleef dieselfde pure lekkerkry as nog altyd om eerste wees met nuus van betekenis.
Daardie oom met die konsertina, kruisbande en velskoene lyk vir my na ‘n gelukkige keuse vir die gesig van “So was dit – stories van gister en vandag”. Johan self is, by wyse van spreke, ‘n konsertina-en-kruisbande-en-velskoen-man.
Die nostalgiese hartsverlange waarmee hy kan skryf oor windpompe, skuurdanse, die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate (ek leen hierdie woorde op die agterplat) is meesleurend. Gooi in die tintelende humor in die man, ‘n element van stoutheid en ‘n meesterlike styl van skryf en vertel, en jy hoef nie verder te soek vir die resep wat hom soveel duisende lojale aanhangers oor die jare besorg het nie.
By Die Volksblad (Volksblad) waar hy 25 jaar die rubriek Stop van Myne met sy eie, unieke aanslag behartig het, het dit my altyd beskeie gehou as ek sy statuur in die gemeenskap teen die van dié redakteur opweeg. Die arme redakteur het sleg tweede gekom!
Later het hierdie gesoute joernalis in Landbouweekblad, Weg. By en Die Burger hom in nog meer lesers se harte ingegrawe.
Vreemd genoeg is “So was dit” sy eerste boek. Ek dink die groot rede is dat hy nie kon “bodder” nie. Vanmelee toe ons by DV aan hom oor ‘n boek begin karring het, was sy melkboerdery by Kafferrivier belangriker. Daarna het o.m. sy Honda Goldwing sy tyd in beslag geneem.
Ongelukkig het wonderlike rubrieke wat bundeling verdien het, op daardie manier verlore gegaan. (Hoop maar die plaasbegrafnis en sy pa se afskeid van sy grond duik op in die bladsye van “So was dit”. ) Maar danksy die vasbyt van mense soos Tobie Wiese is die Oom (sy alter-ego destyds in DV) eerlank op die rakke.
Jacolette Kloppers, joernalis, word op die agterplat aangehaal: “‘n Pragtige boek. By tye het ek gelê van die lag, ander kere het die trane gevloei.”
So is dit as ‘n mens Johan van Wyk lees: jy huil en lag. Jy’s nooit verveeld nie.
Op Melkbos kan hierdie ou nie meer wag vir karakters soos Stefaans-sonder-sokkies, die Beenpense van Draaikraal, ant Hettie Poortjies en Gert Kriedoring nie. Enigmaties, noem die uitgewer Tafelberg hulle. Dis waarskynlik ook die beste woord om die outeur mee te beskryf.
Die enigmatiese Johan van Wyk …. Weet nie of die “”Oom” daarvan gaan hou nie – hy gaan nie juis in vir sulke “fensie” beskrywings nie. Hierdie “fên” dink egter dis ‘n kolskoot-etiket.
Kruger-kosbaarheid
Terwyl by boeke: Dit was vir my ‘n voorreg om Salomon Joubert se enorme liefdestaak, die historiese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History”, vir die Afrikaanse dagblaaie te kon resenseer. Resensie by: http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303
Grootse werke oor grote Kruger
Ek meen die treffende aanbieding van Media24 se boekeredakteur, Jo Prins, het reg laat geskied aan Salomon se gedugte boeke. Ek was werklik ingenome toe by bladsy 9 van Die Burger kom, en is verheug oor die geleentheid om oor sulke boeke van nasionale betekenis ‘n bydrae te kon lewer.
Steeds by boeke: Griffel was die uitgewer van twee van my laaste boeke, “Byl in my Bos” en “Praat-praat in Tamatiestraat”. Albei is mooi uitgegee. Daar het dit opgehou. Oor Marlene Malan se “bloedbad”-berig in Rapport kan hierdie Griffel-outeur helaas maar net byvoeg: Die waarheid oor die Griffel-gruwel is uiteindelik uit.
Comments