Sydney se juweel van ‘n hawe.
Presies hoe ontoeganklik, ontoereikend en onaansienlik Suid-Afrikaanse hawegeriewe vir groot passasierskepe is, besef ‘n mens met skaamte as die vorstelike Queen Mary 2 die indrukwekkende Australiese seepoorte binnevaar.
So het ek op 28 Februarie onder die skuilnaam “Kajuit 6005” in Die Burger geskryf. Vandag wil ek hier op daardie briefie voortborduur, en sommer ‘n foto’tjie of drie bysit van Sydney se skitterende Circular Quay, die eindpunt van ons vaart met die QM2. Die foto’s van die juweel wys dat die uwe nie oordryf nie. Kan iemand nog twyfel waarom Sydney die etiket van die mooiste hawe op die ganse aardbol dra?
Teenoor die skilderagtige Circular Quay, onder die wakende oë van die Sydney-brug en –operahuis, is die Kaapse en Durbanse hawens, om dit brutaal te stel, maar taamlik agterlik. Fremantle/Perth en Melbourne, waar die skip op pad na Sydney aangedoen het, spog self met netjiese hawens, elk met ‘n bekoring van sy eie. (Oor Brisbane, Adelaide en Cairnskan ek my nie uitlaat nie weens ‘n gebrek aan kennis.) :
Maar Durban en Kaapstad: Op op die seeroete van die Kaap na Sydney is die twee, helaas, verreweg die lelikste hawens. Selfs teen die eilandstaatjie Mauritius se hawe,steek die twee maar jammerlik af. Daardie hawe is .’n hanetree van die oulike waterfront Le Caudan. Die twee vorm ‘n eenheid.
Kaapstad het darem nog die ikoniese Tafelberg wat die impak van die goor hawegeriewe op besoekers (hopelik) ietwat versag. Durban het net die belofte van sy goue strande –en hulle is ‘n busrit deur die erg vervalle Puntgebied ver.
‘n Hawe aan die voet van ‘n indrukwekkende brug.
Voorkoms is nie al wat ‘n Suid-Afrikaner op daardie vaart taamlik verleë gestem het nie. In doeltreffendheid is ons agterstand by die eerste wêreld waarskynlik nog groter. Jou ore brand behoorlik as jy medepassasiers hoor wrewel uitstort oor die pynlike gesukkel om in Kaapstad aan boord te kom. ‘n Britse egpaar wat hulle hier by die skip aangesluit het, Michael en Christine (van onbekend), het die dolk diep ingedruk: As hulle geweet het watter marteling hier op hulle wag, sou hulle liefs in Engeland gebly het.
Dis nie iets wat ‘n trotse Suid-Afrikaner graag hoor nie. Woorde om te paai, kon ek ook nie juis vind nie. Omdat op die hawe geen ordentlike geriewe bestaan nie, moes die twee, soos al ons ander aansluitende passasiers, ure in die armsalige Goeie Hoopsentrum sit en wag. Daarna is ons in busse – nie almal juis van goeie gehalte nie – op smal, ruwe paadjies en oor treinspore en plasse water die hawe binnegeskommel. Die skip in al sy glorie was doer eenkant by die goedereloods vasgemeer, op ‘n verlate stukkie kaai plek waar geen taxi naby kan kom nie. Die eensame skip lyk so ontuis soos ‘n koningin in ‘n krot.
Selfs groter verleentheid het gewag. Die waardige kaptein Kevin Oprey het by sy verwelkomingsparty die roede nie gespaar nie. Die passasiers isdubbel en dwars om verskoning gevra vir die ongerief – sommer ook oor die Suid-Afrikaanse doeanemense wat die oggend in Durban ‘n uur laat opgedaag en die toue gefrustreerde passasiers wat wag om aan wal te gaan, tot wie weet waar laat opdam het.
Met ‘n wrang glimlaggie het kaptein Oprey twee ander ongemaklike bloosbrokkies laat val:
Dag en nag ‘n prentjie.
In die Kaap wou die piloot niks weet dat die skip in die digte mis die hawe verlaat nie. Die onwrikbare man moes met moeite oortuig word die Cunard-vlagskip se instrumente is gesofistikeerd genoeg! In Durban weer, moes ‘n sleepboot opsluit die Queen van die kaai wegsleep – wat totaal onnodig is. Toe, om alles te kroon, sleep hy die skip in die verkeerde rigting!
‘n Paar aanbevelings:
Dat ons doeanemense tog maar gaan kyk wat doen die Australiërs, wat sommer in Mauritius al twee netjiese amptenare in wit uniforms op die skip geplaas het om al die papierwerk lank voor die aankoms in Fremantle rustig af te handel;
Dat watter owerheid ook al die verantwoordelikheid dra, tog maar kennis neem hoe dringend nodig ‘n opgradering van die passasiersgeriewe in Kaapstad en in Durban is; dalk ‘n lekker uitdaging vir verbeeldingryke ontwerpers in hierdie groot jaar vir Kaapstad as Ontwerperhoofstad;
Dat Kaapstad se stadsvaders asseblief oorweeg om die Queen met ‘n muurplaket of iets die erkenning te gee wat ‘n besoeker van daardie status verdien, en al van sovele ander hawestede ontvang het:: Van Acapulco in Meksiko tot Stavanger in Noorweë – selfs van Port Elizabeth. Die skip en sy passasiers bestee nogal heelwat in die Moederstad.
‘n Slotgedagte: ‘n Tweede Sydney kan die Kaap (Durban nog minder) nooit word nie. Laat ons realisties wees. Maar om ten minste met die kleine Mauritius te kan meeding, is darem seker nie ‘n onhaalbare teiken nie. Of is dit?
Naskrif: Om sout in ‘n Suid-Afrikaner se wonde te vryf, het die swakheid van die rand vir verdere verleentheid gesorg. Gee nou ‘n respektabele dollar-fooitjie vir iemand vir 22 dae se pamperlang as jy meer as R1000 vir ‘n skamele 100 dollar moet uithaal!
Komentáře